Die Weskus was goed verteenwoordig by die jaarlikse Oudtshoorn-jeugfietsryfees.


Jong fietsryers van die Weskus het onlangs na die Tuinroete gereis om aan die jaarlikse Jeugfietsryfees deel te neem.

Die Weskus-fietsryers het vanjaar weer deelgeneem aan die toernooi wat tussen 11 en 13 Julie deur Eden-fietsry aangebied is.

Die Oudtshoorn Jeugfietsryfees bestaan uit ’n reeks geleenthede en aktiwiteite vir jong fietsryers met ’n kriterium-, pad-, spantydtoets-, bergfiets- en ovaalbaan-wedrenne.

Volgens Jan Faro van Weskus-fietsry is die jaarlikse fees ’n geleentheid om plaaslikes aan verskeie fietsry-wedrenne bloot te stel en ook ’n kans vir hulle om teen ander ontwikkelende fietsryers te kompeteer.

Die organiseerders meen ook die fees bied ’n kans om die provinsie se talentvolle ryers te identifiseer en te help met ontwikkelings- en transformasiedoelwitte.

Die Weskus o.17-span het in die vyfde plek geëindig in die tydtoets-wedren met ’n tyd van 29:57:36.

Faith Faro (o.13) het derde geëindig in die XCO-wedren (Cross-Country Olympic). Die naaste Weskussers aan haar was Chad-Lee September wat die agtste plek vir o.13-seuns ingeneem het. In die o.15-afdeling het Nohlme Malunga (vierde) en Hope Isaacs (vyfde plek) ook goed gevaar. Farrin Talmakkies (o.15) het sesde geëindig onder die seuns. Jade Frans, Shamiel Dietruch, Keanan Tieties, John Lee Smith, Luciano Oortman en Gerswin Booys het almal onder die top-20 in die o.17-wedren geëindig. Die uitblinkers in dié ouderdoms­groep was Devinique Cleophas en Chanecia Cloete, albei in die derde plek. In die junior afdeling het Tarquin Smith, Jean-Lethin Faro en Kaylelin Benjamin onderskei­delik in die negende, tiende en elfde plek geëindig.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 30 April 2026
    Weslander E-Edition – 30 April 2026

Gift this article