Die vroue wat vrywillig inwoners van Saldanha help wanneer hulle die slagoffer van ’n misdryf was, is Vrydag vereer.
Elke polisiekantoor het ’n slagoffersondersteuningskamer, wat 24 uur per dag beskikbaar is en waar diegene wat ’n misdaad aanmeld, gehelp kan word. Dit maak nie saak of jou handsak gesteel is en of jy aangerand is nie – enigeen wat weens ’n misdaad ondersteuning nodig het, kan hier om hulp aanklop.
In Saldanha, soos by alle polisiekantore, word die ondersteuning danksy ’n groep opgeleide vrywilliges gebied. Die ondersteuners is wel nie sielkundiges of beraders nie, maar stap ’n pad saam met slagoffers en maak seker hulle verstaan polisieprosedures.
Die vyf Saldanhabaaiers wat Vrydag bederf is, het gesamentlik 85 jaar as vrywilligerswerk vir hul dorp gedoen.
Welsonja Ockhuis is vanjaar 22 jaar by haar plaaslike traumakamer, soos dit eens bekend was, betrokke. Jaqueline Mthebula (16 jaar), Aletta Nothwana (16 jaar), Doreen Fana (16 jaar), en Dorriana Oewies (15 jaar) is almal ook deur die polisiebevelvoerder kol. Lincon Sebola en AO Yolanda Kotze, Saldanha se polisiewoordvoerder, vir hul jare lange diens bedank. Die geleentheid was deel van die Saldanha-polisie se Vrouemaand-vieringe.. Slagoffers van misdaad wat ondersteuning nodig het, kan by hul plaaslike polisiekantoor se slagofferondersteuningskamer aanklop. Die diens is gratis. As iemand verdere ondersteuning nodig het, soos om ’n sielkundige te spreek, sal hulle verwys word.



