Hulle moes eers Vrydagaand ’n Gold Cup-wedstryd speel, om middernag pak vir Durban, 06:00 die bus haal en ’n vlug na Durban haal om Sondag teen College Rovers te speel.
Saldanha, die verdedigende Boland-kampioen, het Vrydagaand op sy tuisveld die Leopards van die Oos-Kaap 62-33 afgeransel. Die tuisspan het in sy eerste Gold Cup-wedstryd rustyd reeds 26-9 voorgeloop.
Met die 32 top-spanne van oor Suid- Afrika heen wat jaarliks in ’n uitklopfase meeding, het die toernooi dié jaar sy terugkeer gemaak ná ’n afwesigheid van vier jaar weens covid en ander faktore.
Saldanha se oorwinning Vrydagaand het die span ’n plek in die laaste 16 verseker en hulle moes inderhaas na Durban vlieg vir hul volgende wedstryd Sondag teen College Rovers, wat ook reeds twee keer ’n finalis in die kompetisie was. Terwyl doemprofete nie juis baie hoop vir die verdedigende Boland-kampioen gehad het nie, het die span van die Weskus goeie rekenskap van homself gegee.
Saldanha, wat meer as alles in die Rovers-wedstryd gegee het, was rustyd 3-5 agter en het die wedstryd in die titaniese gelykopstryd 18-20 verloor. Met ’n plek in die kwarteindstryd wat wink, het Saldanha met sy wil-nie-opgee-houding die tuisspan tot die uiterste beproef, maar kortgekom. Saldanha se vertoning in die Gold Cup is ’n oorwinning vir die span wat eers met ’n hooggeregshof-aansoek afgeskop het nadat die span deur Boland-rugby saam met St.Helenabaai voorlopig geskors is.
Die span het daarna twee oorwinnings behaal toe die hof gelas het hy kan aan die Gold Cup deelneem. Daarna is Abduragmaan Latief se rooikaart deur Boland verander na ’n geelkaart en kon dié speler ook aan die Gold Cup deelneem.
Nog te meer was hy ook een van die span se driedrukkers in die stryd teen die Leopards nadat Latief en Diegho Talmakkies tydens die Boland-Grootuitdaagbekerstryd tussen Saldanha en St. Helenabaai op 2 September in Saldanha met rooikaarte afgestuur is.





