Dit gaan maar swaar vir die twee Weskus-spanne wat aan die Sanlam-Boland-Top-12-toernooi deelneem.
Saldanha, die verdedigende Boland-kampioen, en Mamre, die Weskus-kampioen, het Saterdag hul tweede agtereenvolgende wedstryde verloor.
Al twee spanne het hul eerste wedstryd verloor en ’n moetwen-wedstryd was nie onderhandelbaar nie.
Saldanha het Saterdag die kampioen uit die Swartland-streek, Darling, onthaal. Darling het die wedstryd vinnig begin, maar sy woema was teen die einde van die eerste helfte byna op. Die besoekers het wel die stadion stil gespeel en op ’n tydstip 34-0 voorgeloop, met ’n rugbyles wat op die verdedigende Boland-kampioen gewag het.
Darling was met rustyd 34-5 voor en het die wedstryd uiteindelik 41-38 gewen nadat Saldanha die tweede helfte met hernude ywer gespeel het. Met die titel wat verdedig moet word, het die verdedigende kampioen die besoekers die meeste van die verdediging laat doen.
Die tuisspan het ook laat in die tweede helfte sy neus vir die eerste voor gekry. Dit het ook nuwe lewe in die span se ondersteuners geblaas.
Darling het egter soos ’n ware kampioen nooit gaan lê nie en steeds aangeval. Die besoekers het reg teen die einde, toe dit broodnodig was, hul enigste punte in die tweede helfte gekry, wat ook genoeg was om die wedstryd te wen.
Saldanha sal sy oorblywende wedstryde moet wen en hoop een van die voorste spanne val vas as hy sy titel suksesvol wil verdedig. Saldanha reis dié naweek na Vanrhynsdorp en kan sy veldtog met ’n bonuspunt-oorwinning teen die Eagles weer op koers kry.
. Wesbank het Saterdag die groen truie van Mamre in Malmesbury geklop. Die tuisspan was met rustyd nog 10-16 agter. Hy het egter vasgebyt en die stryd 34-23 gewen.
. Ander Top-12-uitslae: Young Hearts 26-17 Bella Vista, Hawston 34-17 Eagles, Roberston 32-30 Roses.
Die naweek se program: Mamre teen Bella Vista, Darling teen Robertson en Wesbank teen Delicious.





