Joana Dorothea Snyders (54) was ’n baie geliefde mens – nie net by Steenberg’s Cove Primêr nie, maar in die hele Cove-gemeenskap.
Snyders is Saterdag 11 November aan vermoedelik ’n hartaanval oorlede en laat ’n leemte in die Steenberg’s Cove Primêr-familie en die breë gemeenskap. Sy was bykans 15 jaar deel van Steenberg’s Cove Primêr nadat sy in 2009 as ’n hulpwerker in die voedingskema begin het.
Volgens Karyke Smit, skoolhoof van Steenberg Primêr, kon ’n mens Joana se lag op ’n afstand hoor. Smit sê Joana het altyd tyd gehad vir mense.
“Joana kon planne maak. Sy het haar deur niks laat onderkry nie en vir niks teruggestaan nie. Vir ons skool, ons leerders en personeel was sy ’n ystervrou, ’n ma en ’n vriendin. Met elkeen het sy ’n unieke en baie spesiale verhouding gehad. Vir haar gesin was sy ’n steunpilaar en anker.
“Agter die sterk en soms selfs kwaai tannie Joana, het tog ’n klein en sagte hart geskuil wat oorloop van liefde en omgee vir die mense rondom haar.”
Smit voeg by hoewel Joana se stem stil is, het sy voetspore in hul lewens gelaat wat hulle altyd sal onthou.
“Die herinneringe in ons harte sal vir ewig bly. Ons gun jou die ewige rus. Tot ons weer ontmoet, tannie Joana.”





