Boland gaan gewis ’n nuwe kampioen kry.
Saldanha, verlede jaar se kampioen, sal nie sy titel vanjaar op die Boland-stadion verdedig nie. Saldanha het Saterdag in ’n wedstryd wat hy moes wen, 39-41 teen Hawston in ’n wegwedstryd vasgeval.
Die verdedigende kampioen het die wedstryd goed begin en reeds in die eerste 12 minute in die tuisspan se gebied gespeel, waar hy ’n strafskop afgedwing het. Saldanha het besluit om die punte te vat en 3-0 voorgeloop.
Die besoekers het daarna die tuisspan stom gelaat toe Monray Jacobs deur ’n gaping gebars en byna 40 m gehardloop het vir wat tot Riaan Louw se drie gelei het. Die besoekers het daarna 8-0 voorgeloop en Louw het minute later deurgehardloop vir sy tweede drie, wat dié keer verdoel is. Die kampioen het 15-0 voorgeloop met die Boland-stadion wat wink.
Saldanha het egter die agterdeur vir die tuisspan wawyd oopgemaak toe hy ’n geelkaart kry.
Hawston, met een speler meer, het dit tot sy voordeel gebruik en 14 punte binne drie minute aangeteken, wat sy agterstand tot een punt laat krimp het.
Die tuisspan het daarna die kampioen op die agtervoet gehou en nog ’n verdoelde drie behaal net voor die geelkaart-speler teruggekeer het.
Saldanha het met speeltyd in die eerste helfte feitlik verstreke weer sy neus voor gekry om rustyd met 22-21 voor te loop.
Die tweede helfte het teen ’n vinnige tempo begin, met al twee spanne wat die bal wyd gespeel het. Saldanha het in die tweede helfte weer eerste bloed geruik met ’n onverdoelde drie en sy voorsprong tot ses punte gerek.
Die tuisspan het egter nooit opgegee nie en met ’n strafskop en verdoelde drie weer sy neus voor gekry.
Die wipplankstryd het daarna weer verander toe die kampioen met 20 minute oor danksy ’n verdoelde drie weer voorgeloop het. Met ’n wiskundige kans vir die Boland-stadion – as Darling teen Roses vasval – het Hawston daarna weer die skaal in sy guns geswaai met ’n onverdoelde drie om 36-34 voor te loop. Die verdedigende kampioen het minute later weer voorgeloop met nog ’n onverdoelde drie.
Hawston se veggees en wil om te wen, het egter sterk na vore gekom. Hy het ook weer met ’n onverdoelde drie geantwoord. Met die horlosie wat aanstap, het Saldanha sy beste kanse gehad om die wedstryd te wen en die een na die ander aanval meters van die tuisspan se doellyn van stapel gestuur, net om die bal te verloor.
Die kampioen, wat die wedstryd met 14 spelers moes voltooi, het met die tyd reeds verstreke weer ’n kans gekry om sy plek in die halfeindstryd met ’n strafskop te verseker, maar mis geskop.
. Darling het op sy tuisveld Roses geklop om sy plek te verseker. Wesbank pak Robertson en Darling pak Safcol die naweek vir ’n plek in die eindstryd.





