Vredenburg/Saldanha se Krewe het Saterdag teen die studente van Maties in Stellenbosch vasgeval.
Die moet-wen-wedstryd vir die Krewe was ’n naelbyt-riller nadat die slimmes eerste gekolf en ’n teiken van 284 lopies gestel het.
Die Krewe kon egter net 260 lopies behaal, wat aan Maties ’n oorwinning van 23 lopies verseker het. Met die twee spanne wat mekaar nog in Vredenburg moet pak, is dit onduidelik of die wedstryd gaan plaasvind. Saterdag se wedstryd tussen die twee spanne was veronderstel om die liga se laaste wedstryd te wees.
Maties het egter verskeie kere vir uitstel gevra weens ander verpligtinge en dit is nou onseker of die liga gaan bly soos dit is en of ander wedstryde gespeel gaan word. Maties, wat nog vier wedstryde moet speel, is die gunsteling om sy titel as kampioen te behou.
Indien die puntestand bly soos dit tans is, beteken dit die Krewe is die nuwe Boland-kampioen.
Boland-krieket kon teen druktyd nie bevestig of die uitstaande wedstryde nog gespeel gaan word nie.
. Boland-krieket se nuwe kompetisie, die Boland-Goldrush-T20-Superliga, begin Saterdag (16 Maart) met 16 spanne wat sake sal uitspook. Dié T20-toernooi met ’n gesamentlike prysgeld van R84 000 is eers onlangs bekendgestel. Die kompetisie begin hierdie naweek in Vredenburg, Paarl, Stellenbosch en Worcester, waarna die twee top-spanne van elke afdeling sake verder op Bolandpark sal uitspook. Die wenner van die Goldrush-toernooi sal met R45 000 wegstap, terwyl die naaswenner R20 000 in sy sak sal steek. Die spanne wat derde en vierde eindig sal onderskeidelik R10 000 en R5 000 verdien. Vredenburg/Saldanha is in afdeling A saam met Wellington, Darling en Piketberg. Saterdag pak Vredenburg/Saldanha vir Wellington in Vredenburg, terwyl Darling die span van Piketberg op die B-veld sal pak. Die Krewe sal dan Darling om 12:15 op die B-veld aanvat, voordat hulle Piketberg in die laaste groepwedstryd om 15:30 ontmoet.



