Die polisie in Moorreesburg ondersoek ’n moordsaak nadat die lyk van die 30-jarige Clinton Eugene Geduld Sondagoggend (28 April) om 02:35 in Olyfboomstraat, Fairview, gevind is. Geduld het meswonde aan sy liggaam gehad.
Die 31-jarige Aviwe Ntliziyombi het Maandag (29 April) in die Vredenburg-landdroshof verskyn op aanklag van moord op Thomas Nkhangweleni (33). Nkhangweleni is in die Vredenburg- provinsiale hospitaal oorlede nadat Ntiziyombi hom na bewering met ’n mes gesteek het.
Bronwin Saal (24) het Maandag (29 April) in die Klawer-landdroshof verskyn op aanklag van moord nadat hy en Andries Cloete (45) Saterdagoggend om 01:35 glo ’n bakleiery oor bier gehad het. Na bewering wou Cloete en sy vriend nie vir Saal van hul bier gee nie, waarop Saal glo kwaad geword en Cloete met ’n mes gesteek het. Cloete is op die toneel dood.
’n Man van 24 het Vrydagaand (26 April) omstreeks 22:00 in Trireemstraat, Hopland (Saldanha), gery toe hy hoor hoe ’n skoot afgevuur word. Hy het niemand gesien nie en by nadere ondersoek ’n “koeëlskoot” agter sy voertuig opgemerk.
Gert Klein (45) van Broodkraal, Moorreesburg, is Saterdagaand (27 April) om 21:50 deur ’n voertuig op die Hopefieldpad (R311) getref. Die motoris agter die stuur het na bewering weggejaag en Klein vir dood agtergelaat. Die polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag.
Ringo Rensburg (48) van Malmesbury is Vrydagmiddag (26 April) in hegtenis geneem vir die onwettige besit van ’n vuurwapen. Sy huis is deursoek nadat inligting oor die vuurwapen ontvang is. Dit is gevind waar hy dit tussen planke versteek het. Hy het Maandag in die Vredenburg-landdroshof verskyn.
Bure van ’n 54-jarige vrou van Vanrhynsdorp het haar Saterdagoggend (27 April) meegedeel dat van haar huiseiendom agter in die erf lê. Haar valstande is onder meer in die straat opgetel.
Koperdrade van sowat R30 000 is Donderdag 25 April op ’n plaas in Klawer gesteel.
’n Man wat veronderstel was om ’n man van Laaiplek in en om die huis te help, het Donderdag (25 April) met die man se kind se selfoon, wat versteek was, weggeloop.
Bougereedskap ter waarde van R10 000 is Donderdag 25 April uit ’n erf in Port Owen, Laaiplek, gesteel.
’n Jong vrou van Klawer is Saterdag (27 April) voorgekeer toe sy in ’n winkel kaas onder haar klere probeer versteek het en daarmee wou uitglip.
Diewe het Sondag (28 April) by ’n plaashuis in die Klawer-omgewing ingebreek en goedere ter waarde van R32 500 gesteel, wat al die mense se beddegoed insluit.
’n Saamrygeleentheid van ’n kuierplek af het ’n 28-jarige vrou van Klawer Sondagoggend om 04:00 duur te staan gekom toe sy agterna agtergekom het haar selfoon en geld is uit haar handsak gesteel.
Diewe het Sondag (28 April) by ’n vulstasie in Darling se stoorkamer ingebreek en 24 koeldranke gesteel.
Die gemeenskap van Piketberg het ’n 36-jarige man van die dorp Donderdagmiddag (25 April) aangekeer nadat hy uit ’n klerewinkel gehardloop het met skoolskoene waarvoor hy nie betaal het nie.
’n 25-jarige man is Saterdag (27 April) in Riebeek-Wes voorgekeer met ’n duur bottel drank wat hy in sy broek probeer versteek het. Hy het egter die bottel laat val toe hy voorgekeer is.
Twee vroue van Vredenburg – 57 en 36 jaar oud – is Vrydagmiddag aangekeer toe hulle hulself aan kosmetiese produkte van nagenoeg R1 000 help en by die winkel wou uitloop. Die polisie het ook ’n 29-jarige man, ook van Vredenburg, in hegtenis geneem nadat hy dieselfde dag by dieselfde winkel probeer het om met vloerpolitoer uit die winkel loop.
By nog ’n winkel in Vredenburg is ’n 25-jarige man Sondag (28 April) voorgekeer toe hy probeer het om met kruideniersware van R385 uit die winkel te glip, en omtrent dieselfde tyd wou ’n 39-jarige man by ’n ander kettingwinkel met vier bottels stortseep wegkom.
Senior Mfakadolo (35) van Malmesbury, wat al voorheen skuldig bevind is aan bedrog en winkeldiefstal, het Maandag in die landdroshof verskyn nadat sy Vrydagmiddag glo probeer het om met R4 979,94 se wyn en vonkelwyn uit ’n kettingwinkel te loop.


