Vredenburg se Burg Boys het Saterdag weer hul seisoen op koers gekry toe hulle Saldanha in dié se agterplaas 24-18 geklop het nadat hulle ook rustyd 12-10 voor was.
Die wedstryd, wat ’n klassieke klipharde derby was, het ook weer die Burg Boys eerste op die punteleer geplaas met ’n beter punteverskil met Saldanha in die tweede plek. Vredenburg, wat eerste op die telbord was danksy ’n strafskop, het van die eerste minuut gewys hulle is honger vir ’n oorwinning.
Saldanha het egter moedig probeer, maar die wil om te wen het ontbreek. Vredenburg se swak dissipline het ook byna die span gekelder, maar goeie verdediging het hulle in die wedstryd gehou toe die span in ’n stadium met 13 man oor die weg moes kom. Met albei spanne, wat talle geleenthede geskep het vir punte, se afronding het hulle egter in die steek gelaat.
Saldanha, wat die naweek na die Agterbaai reis om die Cove te pak, sal egter vinnig momentum moet kry aangesien die Cove op sy tuisveld ’n harde neut is om te kraak.
Die Cove is egter die naweek in Paternoster sy grootste nederlaag toegedien toe die tuisspan met 44-17 baas was.
St. Helenabaai, wat die naweek gerus het, kan met ’n weg-oorwinning oor Langebaan tussen die eerste twee spanne op die punteleer en selfs die eerste plek inneem indien Cove die voormalige Bolandkampioen kan skud.
Young Hearts het ook hul harde derby teen Mamre se groen truie geklop en die span van Kenny Stadler in die laaste plek gelaat.
Die groen truie onthaal die onvoorspelbare Velddrif die naweek en met ’n oorwinning kan hulle dalk ’n plek of twee spring.
Volledige uitslae
. Weskus
Saldanha 18-24 Vredenburg, Paternoster 44-17 Steenberg’s Cove, St. Helena 32-21 Hopefield, Velddrif 33-26 Piketberg, Young Hearts 19-12 Mamre.Swartland
Wesbank 18-19 Darling, Abbotsdale 60-7 Young Eagles, Riebeeck United 33-5 Moorreesburg, Villagers Wittewater 16-21 Saron en Porterville 22-15 Good Hopes
Die naweek speel:.Weskus
Steenberg’s Cove t. Saldanha, Langebaan t. St. Helena, Mamre t. Velddrif, Piketberg t. Paternoster en Hopefield t. Young Hearts terwyl Vredenburg ’n blaaskans neem..Swartland
Never Despairs t. Porterville, Good Hopes t. Villagers Wittewater, Saron t. Moorreesburg, Riebeeck United t. Abbotsdale en Young Eagles t. Wesbank. Darling sal die naweek nog hul oorwinning oor Wesbank vier.





