Drie mans wat na bewering van plan was om Sondagaand (9 Junie) die KFC in Hoofstraat, Vredenburg, te beroof, het laat spaander toe die polisie opdaag.
Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, het Thando Salimani (41), Bonga Huna (41) en Vika Feleza (26) baie verdag voorgekom omdat hulle by die KFC rondbeweeg het.
Met die polisie se aankoms het hulle in Wesbank se rigting begin hardloop. Die polisie het hulle vasgetrek en in die bosse langs Salimani ’n 9 mm-pistool met 14 rondes ammunisie gekry.
Die drie verdagtes het Dinsdag in die Vredenburg-landdroshof verskyn en is van poging tot sakeroof en die besit van ’n onwettige vuurwapen en ammunisie aangekla.





