Frustrasies, vrae en verwardheid is van die vele emosies wat deur die jong Mileca Louw se gedagtes gegaan het toe sy hoor sy het lupus.
Lupus is op 14 by dié 22-jarige van Hopefield gediagnoseer. Wat vir Mileca ook moeilik was om te verwerk, is dat haar oumagrootjie net voor haar diagnose aan lupus oorlede is.
“Al wat deur my gedagtes gegaan het, was hoekom ek? Ek moet bieg ek was en is soms steeds bang dat dit met my gebeur,” vertel Mileca.
Sistemiese lupus erythematosus (SLE) is ’n outo-immuunsiekte wat die immuunstelsel aanval. Dit kan onder meer die vel, niere en gewrigte raak.
Van Mileca se eerste simptome was geswelde hande en voete – iets wat baie moeilik is vir ’n 14-jarige om te hanteer.
Haar ma, Marshia Bester, het ná die diagnose met gemengde emosies geworstel.
“Hoekom moet my kind dié nare siekte kry – só jonk met soveel pyn en ongemak? Telkemale kon ek net bid dat sy ’n normale lewe moet hê,” vertel Marshia.
Dag vir dag
Die gesin het nie veel kennis van lupus gehad nie en het die reis as ’n tuimeltreinrit ervaar, met besoeke by die een dokter na die ander, elke keer met ’n ander diagnose.
In 2016 het die pyn so erg geraak dat Mileca nie kon loop nie. “Ons het uiteindelik by ’n rumatoloog uitgekom, wat die lupus gediagnoseer het. My vraag was – hoe nou vorentoe? Daar was toetse op toetse en ek moes myself emosioneel voorberei op die nuus.
“Ons het dit maar dag vir dag gevat,” sê Marshia.
Mileca deel dieselfde sentiment en sê lupus is ’n baie onvoorspelbare siekte, “maar vandat ek dit aanvaar het, is dit makliker om daaroor te praat”.
“Ek het nooit daarvan gehou as mense vra wat fout is nie, maar nou voel ek baie gemakliker om oor my siekte te praat. Sommige dae is moeiliker as ander, maar met ’n goeie ondersteuningstelsel is dit makliker.”
Sy sien lupus nie as ’n doodsvonnis en die einde van ’n mens se storie nie, maar as die begin. “Jy kan ’n normale lewe leef – my normaal en ’n gesonde mens se normaal is dalk nie dieselfde nie, maar ek probeer so normaal as moontlik leef. Tans is ek besig met my graad in onderwys. Ek het ’n passie vir opvoeding en streef daarna om ’n goeie onderwyseres te wees.”
Marshia is trots op haar dogter en dit wat sy op haar jong ouderdom al bereik het. “Op hierdie vlak is sy sterker as wat ek is. Sy het haar afdae, maar die meeste van die tyd probeer sy so normaal as moontlik wees. Sy het ’n sterk veggees en laat nie toe dat lupus haar lewe oorneem nie.”
Mei is lupus-bewusmakingsmaand en die West Coast Lupus Foundation beoog om bewusmaking reg deur die jaar te doen.
- Kontak Brigitte Makan by 078 013 7545 of Carlo Cloete by 072 922 6667 vir meer inligting.




