Steenberg’s Cove is Saterdag (15 Junie) op sy tuisveld hard terug aarde toe gebring deur Vredenburg se “Burg Boys”. Vredenburg het die eerste tweederondewedstryd 48-5 gewen nadat hy rustyd reeds 24-5 voor was.
Vredenburg het reeds vroeg in die wedstryd gewys dat hy nie die wedstryd ligtelik opneem nie en was gou 7-0 voor. Die tuisspan het egter daarna die een na die ander aanval begin om ’n onverdoelde drie te behaal. Cove het daarna behoorlik gebiedsvoordeel geniet maar kon nie sy kanse in punte omskep nie.
Die tuisspan was ook onder druk in die vaste skrums.
Vredenburg het egter die min kanse wat hy gekry het, beter benut en nie geskroom om met sy agterlyn aan te val nie. Dit was egter duidelik dat Cove glad nie die Burg Boys se wedstrydplan kon lees nie en Vredenburg het dit tot sy voordeel gebruik.
Die tweede helfte was ook eenrigting- verkeer met die tuisspan wat by tye gevaarlik gelyk het, maar die gebrek aan afronding het ontbreek. Vredenburg het egter meer gebiedsvoordeel geniet en die voordeellyn die hele 80 minute aangeval.
Vredenburg het met die oorwinning weer die eerste plek op die punteleer ingeneem.
Mamre het op sy tuisveld die eersteronde-voorloper Paternoster tot in die derde plek geskrum. Die groen truie van Kenny Stadler het die moet-wen-stryd 37-28 gewen en het twee plekke opgeskuif en pak Saterdag die voormalige Boland-kampioen, Saldanha.
Young Hearts het ook die onmoontlike vermag deur Langebaan in ’n wegwedstryd te klop. Die troepe van die grafkelder sal Saterdag St. Helenabaai onthaal.
Met slegs sewe punte wat die eerste ses spanne skei, sal die komende naweek se uitslae weer die punteleer beïnvloed.
Volledige uitslae:
.
Weskus
Steenberg’s Cove 5-48 Vredenburg; Piketberg 22-53 Saldanha; Mamre 37-28 Paternoster; Hopefield 31-21 Velddrif en Langebaan 18-19 Young Hearts.. Swartland
Young Eagles 19-42 Darling; Riebeeck United 18-31 Wesbank; Saron 17-35 Abbotsdale; Never Despairs 33-10 Villagers; Wittewater en GoodHopes 23-23 Moorreesburg.
Die naweek pak:
. Weskus
Vredenburg t. Piketberg, Saldanha t. Mamre, Paternoster t. Hopefield, Velddrif t. Langebaan, Young Hearts t. St Helena en Steenberg’s Cove neem ’n blaaskans.. Swartland
Darling t. Riebeeck United, Wesbank t. Saron, Abbotsdale t. GoodHopes, Moorreesburg t. Never Despairs, Villagers Wittewater t. Porterville en Young Eagles geniet ’n loslootjie.





