Wyle Alwyn du Bois (links) saam met Pieter de Villiers


Alwyn du Bois (55) het Vrydag (28 Junie) slegs ’n maand ná sy pa se dood sy laaste asem uitgeblaas.

Die alombekende Vredenburg-inwoner het met sy vriendelike en verwelkomende gees in die hart van baie geklim. Du Bois is weens kanker oorlede – iets wat nie baie lank gelede by hom gediagnoseer is nie.

Volgens Pieter de Villiers, ’n jong man wat ’n hegte band met beide Du Bois en sy pa gehad het, was Alwyn vir hom soos ’n broer. “Hy was altyd vriendelik en sou altyd help as hy kon. Hy het alles met liefde gedoen,” vertel De Villiers.

De Villiers deel graag dat Du Bois “ ’n goeie ouboet” vir hom was en hom ondersteun het in alles wat hy aangepak het.

Toe Weslander oor Coenraad du Bois se dood berig het, het Alwyn vertel dat hy en De Villiers baie na aan mekaar was en ’n regte broederband gehad het.

Sy drie tannies vertel hulle gaan sy kuiertjies mis en dat hy altyd ’n grappie gehad het om te deel. “Hy het ’n baie goeie humorsin gehad en was baie bekend in die gemeenskap. Sy goeie orrelspel sal nog lank deur die Vredenburg-gemeente onthou word,” vertel hulle.

Suselna Theart van die NG kerk sê sy het Du Bois bewonder vir sy besonderse musikale vermoë op die orrel en klavier.

“Toe hy reeds baie siek was, het hy steeds positief gebly en pligsgetrou elke Sondag agter die orrel ingeskuif,” voeg sy by.

Hanlie Bell van Weskusnessie sê Du Bois het 25 jaar lank die klank by Weskusnessie se konserte behartig. “Hy was altyd met ’n breë glimlag gewillig om te help. Nooit was enigiets vir hom te veel moeite nie. Rus sag, Alwyn; ek gaan ons geselsies mis.”

Die begrafnis vind Vrydag 5 Julie om 14:00 by die Vredenburg NG kerk se Moedergemeente plaas.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article