Weslander verskaf weekliks ‘n kort blik op die vorige week se misdaadgebeure in sy verspreidingsgebied met behulp van kapt. Tania Helfrich, die distrikswoordvoerder vir die Weskus-polisie:
Mkhulu Mofokeng (38) is verlede Dinsdagoggend (2 Junie) omstreeks 06:30 op die Lambertsbaaipad (R364 ) deur ‘n bus getref. Mofokeng se lyk is in die bosse gevind. Die Lambertsbaai-polisie ondersoek ‘n saak van strafbare manslag.
Booi Minnies (67) is die afgelope Saterdagaand (6 Junie) omstreeks 19:15 op die R44 net buite Porterville doodgery. Minnies het na bewering uit die bosse voor ‘n aankomende voertuig ingeloop en is doodgery. ‘n Tweede voertuig het ook oor hom gery. Die Porterville-polisie ondersoek ‘n saak van strafbare mansslag.
Die afgelope Saterdagaand (6 Junie) om 18:40 is die lyk van ‘n onbekende man langs die treinspoor in Schoonspruit, Malmesbury, gevind. Die oorledene was in ‘n bruin T-hemp, bruin kortbroek en ‘n bruin baadjie geklee. Die polisie van Malmesbury het ‘n geregtelike doodsondersoek geopen.
’n Jeugdige, wat Sondag (7 Junie) ???? oud geword het, het Maandag in die Vredenburg-landdroshof verskyn nadat hy Saterdagoggend omstreeks 01:00 na bewering ene Heinrich Shisolo (31) in Diazville met ‘n mes bygekom het. Shisolo is met ‘n meswond in sy kop in die plaaslike hospitaal opgeneem. Hy het Sondagaand aan sy wond geswyk. Die Saldanha-polisie ondersoek die saak as een van moord.
Garreth Swarts (30) van Porterville het Maandag (8 Junie) op aanklag van aanranding met die doel om ernstig te beseer, in die hof verskyn nadat hy na bewering ‘n 36-jarige man Saterdagmiddag met ‘n vol bottel bier aangerand het. Swarts het die man, wat op pad was dorp toe om kos te gaan koop, gevra om vir hom wyn te gaan koop. Die man het egter gesê hy is op pad om kos te gaan koop en nie wyn nie, waarop Swarts die man met die vol bottel bier bygedam het.





