Die Weskus-lugskouspan het voorlopig Saterdag en Sondag, 20 en 21 Maart 2027 opsygesit vir die vierde Weskus-lugskou by die Saldanha-lughawe.
Voordat finaal besluit word, wil die organiseerders egter eers hoor of genoeg steun uit die gemeenskap, sakeondernemings en die lugvaartbedryf is om nóg ‘n skou moontlik te maak. ‘n Finale besluit word in Oktober 2026 verwag.
Volgens die span is dit nie ‘n borgskapveldtog nie, maar eerder ‘n kans om saam te gesels oor die toekoms van die geleentheid en hoe dit steeds tot die Weskus kan bydra.
Sedert die eerste lugskou in 2022 het die geleentheid vinnig gegroei en tussen 5 000 en 7 500 mense per jaar gelok.
Meer as die helfte van die besoekers het van buite die streek gekom, wat ‘n groot hupstoot vir plaaslike verblyfplekke, restaurante, winkels en toerisme beteken het. Die 2025-lugskou alleen het volgens ramings meer as R6,5 miljoen vir die plaaslike ekonomie ingebring.
Hoewel lugvaart steeds die hoofaantrekking bly, het die geleentheid oor die jare uitgebrei om ook jeugontwikkeling, geld- insameling vir nie-regeringsorganisasies (NRO’s), plaaslike verkopers en gemeenskapsprojekte in te sluit. Die skou is die enigste in Suid-Afrika met ‘n toegewyde hommeltuig-afdeling.
Vir 2027 word reeds gedink aan nog groter en meer interaktiewe aanbiedinge soos tegnologie- en hommeltuiguitstallings, motorsportdemonstrasies, BMX- en skaatsplankryvertonings, leefstyl- en toerisme-uitstallings, jeugprogramme en gesinsvermaak.
Die organiseerders sê dit is nog net idees en hulle wil graag hoor wat die gemeenskap graag by die geleentheid wil sien.
Sakeondernemings, organisasies, diensverskaffers, vrywilligers en ander belanghebbendes wat betrokke wil raak, kan Clive Coetzee by 084 614 1675 bel of e-pos stuur na clivecoetzee@sun.ac.za.





