Verlede Vrydag (22 Mei) het ‘n groot droom vir Gerhard Strydom (21) van Velddrif waar geword toe hy ná byna twee jaar se intensiewe opleiding as duiker by die Suid-Afrikaanse vloot gekwalifiseer het.
Strydom, ‘n oudleerling van die Hoërskool Velddrif waar hy ook voorsitter van die leerlingraad was, beskryf die prestasie as ‘n besondere mylpaal in sy lewe.
“Toe ek twee jaar gelede genooi is om aan die vloot se keuringsuitdunne deel te neem, kon ek duidelik ervaar hoe die Hoër Hand ‘n plan met my lewe het,” vertel hy.
Op ‘n koue wintersdag moes hy deur strawwe swem- en fiksheidstoetse werk om ‘n plek in die opleidingsprogram te verdien. Sy grootwordjare in Velddrif, met swem en duik in die see en rivier, asook deelname aan langafstandatletiek, het hom egter goed voorberei.
Uit byna 200 jongmense wat aan die keuringsproses deelgeneem het, is slegs 16 kandidate vir die opleiding gekies.
Die opleiding is berug vir sy hoë eise en Strydom sê die wintermaande en ysige watertoestande was van die grootste uitdagings wat hy moes trotseer.
“Ek het geleer dat jy eienaarskap van jou eie fiksheid en ingesteldheid moet neem. As jy fisiek voorbereid is en jou kop is reg, kan jy enigiets oorkom.”
Sy belangstelling in die vloot het vroeg begin. “Ek het altyd mense van die vloot bewonder. Hul netheid, dissipline en natuurlik die uniforms het vir my uitgestaan,” vertel hy laggend.
Bereik jou mylpaal met harde werk
Aanvanklik het hy bloot op ‘n werwingsadvertensie gereageer terwyl hy nog onseker oor sy toekomstige loopbaan was. Nadat hy gekeur is en sy basiese opleiding voltooi het, het hy besluit om die uitdagende pad van ‘n duiker te volg.
Vir Strydom is die lesse wat hy tydens sy opleiding geleer het groter as net ‘n beroepsprestasie. “Hierdie ervaring het my geleer dat, mits jy bereid is om hard te werk, jy enige mylpaal kan bereik. Harde werk troef talent elke keer.”
Hy glo ook dat ‘n persoon se sukses nie deur agtergrond of omstandighede bepaal word nie, maar deur die bereidwilligheid om hard te werk vir jou doelwitte.
Sy volgende uitdaging in die vloot is reeds in sig – opleiding om na nóg groter dieptes te duik, met die doel om uiteindelik 54 meter diep te kan werk.
Wanneer dit by sy sukses kom, huiwer Strydom nie om erkenning te gee aan die mense wat hom ondersteun het nie. “Alle eer gaan aan my Hemelse Vader wat my die wysheid en krag gegee het. Ek is ook ongelooflik dankbaar teenoor my ma, oupa, familie, vriende en veral die mense van Velddrif vir hul motivering en ondersteuning.”
Aan jongmense wat dalk onseker voel oor hul toekoms, het hy ‘n kragtige boodskap: “Daar is ‘n plek vir elke persoon op hierdie aarde om hul drome te verwesenlik. Sommige gaan universiteit toe, ander volg ‘n ambag of begin hul eie ondernemings. Jy moet net jou paadjie ontdek en bereid wees om hard te werk om ‘n sukses daarvan te maak.





