SALDANHA – Die kragtoevoer na verskeie militêre instellings in die Weskus sal na verwagting teen môre herstel wees nadat betaling vandag deur die Departement van Verdediging (DoD) aan die Saldanhabaai-munisipaliteit gemaak is.

Die munisipaliteit het Woensdag omstreeks 14:00 die krag na onder meer die Militêre Akademie en SAS Saldanha-vlootbasis in Saldanha, die Langebaanweg-lugmagbasis en die 4 Spesiale Magte Regiment (die Recces) in Langebaan afgesny weens ’n uitstaande rekening wat glo in die miljoene beloop.

Die SAS Saldanha-vlootbasis was ook geraak deur die krag wat afgesit is. Foto: SA National Defence Force

Die onderbreking het groot ontwrigting veroorsaak vir personeel en gesinne op die basisse, met geen warm water, ontvriesende yskaste en beperkte werkverrigting.

Die situasie is veral problematies aangesien eksamens vir studente aan die Militêre Akademie op die punt staan om te begin.

“Ons het ’n kragopwekker, maar dit werk net op sekere tye,” het ’n bron gesê. “Met eksamens wat begin, is dit ’n groot probleem.”

Volgens Ethne Lawrence, woordvoerder vir die Saldanhabaai-munisipaliteit, behoort die krag teen môre aangeskakel te wees. “Betaling is vandag aan die munisipaliteit gemaak,” het sy bevestig.

Dit is glo nie die eerste keer wat die krag afgeskakel word nie, en daarom laat die voorval vrae ontstaan oor herhalende wanbetaling en die impak daarvan op kritieke staatsinstellings op Saldanha.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 7 May 2026
    Weslander E-Edition – 7 May 2026

Gift this article