Toe Neil Armstrong op 20 Julie 1969 ná sy maanlanding gesê het: “One small step for man, one giant leap for mankind”, het hy ook ‘n ikoniese beeld van die aarde uit die ruimte help vasvang.
Op 1 April vanjaar het die Artemis II-sending, 57 jaar later, weer soortgelyke beelde van die aarde geneem.
Van buite af lyk die planeet steeds dieselfde, maar oor die afgelope dekades het baie verander.
Volgens die Verenigde Nasies het die wêreldbevolking sedert 1969 met ongeveer 130% toegeneem. In Suid-Afrika was die groei in dieselfde tydperk selfs hoër, met sowat 195%.
Met Aarde-dag wat jaarliks op 22 April gevier word, wys kenners daarop dat hierdie vinnige bevolkingsgroei toenemende druk op die aarde se hulpbronne plaas. Meer mense beteken groter vraag na kos, water en energie, wat tot gronduitputting, watertekorte en verhoogde besoedeling kan lei.
Die impak word ook in klimaatsverandering gesien, met hoër temperature en meer onvoorspelbare weerstoestande wat reeds in baie dele van die wêreld, insluitend Suid-Afrika, ervaar word. Intussen neem natuurlike habitatte af, wat biodiversiteit bedreig.
Kenners beklemtoon egter dat die uitdaging nie net die aantal mense is nie, maar ook hoe hulpbronne gebruik en bestuur word. Volhoubare praktyke, beter beplanning en verantwoordelike verbruik bly sleutels om die aarde se welstand vir toekomstige geslagte te beskerm.
Besoedeling, veral plastiekbesoedeling, word as een van die grootste uitdagings beskou, veral in kusgebiede.
Volgens die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing is plastiekrommel tans een van die mees kommerwekkende vorms van besoedeling.
Navorsing deur die WNNR dui daarop dat tot 40 000 ton plastiek jaarliks in Suid-Afrikaanse seewaters beland.
Hierdie plastiek word dikwels deur visse en seevoëls ingesluk en kan oor tyd visbronne en mariene ekosisteme benadeel. Dit het ook ‘n merkbare negatiewe impak op die land se kuslyn.
Langs die Weskus word egter toenemend plaaslik opgetree. Gemeenskaps- inisiatiewe soos strandopruimings in Langebaan, Saldanha en Velddrif help om plastiek uit die omgewing te verwyder. Projekte wat afval in riviere opvang, voorkom verder dat dit die see bereik, terwyl bewusmakingsprogramme by skole en in gemeenskappe help om gedrag te verander.
Kenners wys egter daarop dat volhoubare sukses afhanklik is van beter afvalbestuur op land, aangesien die meeste plastiekbesoedeling van dorpe en riviere na die kus beweeg.
Hoe kan jy betrokke raak?
· Verminder, hergebruik en herwin (reduce, reuse, recycle).
· Neem deel aan gemeenskapskoonmaakprojekte.
· Moenie verby rommel loop nie, tel dit op.
· Selfs klein aksies maak ‘n verskil. As elke mens net een stuk rommel per dag optel, kan die gesamentlike impak groot wees, en help om die wêreld ‘n beter plek te maak.
En dan kan ons soos ‘n ander Armstrong (Louis) sing…”And I think to myself, what a wonderful world”.




