Die matrikulant Fiano Swiers (19) is verlede week in die fleur van sy lewe skielik kortgeknip.

Fiano was ‘n leerder aan die Hoërskool Louwville in Vredenburg en het groot planne vir sy toekoms gehad.

Dié jongman en inwoner van White City in Saldanha het glo op Dinsdag 28 April op pad skool toe inmekaargesak nadat hy asemhalingsprobleme ervaar het.

Sy broer, Anthony van Rooyen, het met Weslander gedeel dat dit ‘n emosionele tydperk vir die familie is en dat hulle sy dood moeilik vind. Hy meen Fiano het geen gesondheidskwessies gehad nie, wat sy skielike dood onverwags gelaat het.

Anthony beskryyf Fiano as ‘n baie liefdevolle mens wat maklik in almal se harte gekruip het.”Hy het ‘n ­­besondere persoonlikheid gehad en opreg vir ander mense omgegee. Hy was iemand wat altyd konflik probeer vermy en eerder vrede gesoek het. Ek gaan hom ongelooflik baie mis – tyrouens; ek mis hom reeds. Sy omgee, hoe hy altyd by my ingeloer het en die band wat ons gehad het, het baie vir my beteken.”

Anthony meen hul gesprekke was spesiaal en hy het baie by Fiano geleer. “Dit is veral daardie dinge wat ek die meeste gaan mis.”

Die Hoërskool Louwville het op sy Facebook-blad geskryf dat hy sy diepste en hartlike meegevoel aan die familie betuig.”Die afsterwe van jul geliefde Fiano ­Swiers het ons almal diep geraak en ons harte is swaar van hartseer. Jou nagedagtenis sal vir ewig in ons harte bly. Hoewel jou tyd saam met ons heeltemal te kort was, sal die impak wat jy gemaak het, nooit vergeet word nie. Ons sal altyd jou glimlag, jou vriendelikheid en die oomblikke wat ons gedeel het, onthou. Te gou weg, maar nooit vergeet nie. Mag jou siel in ewige vrede rus,” het die skool bygevoeg.

Du-Damian Claasste, Swiers se Afrikaans-onderwyser, het ook ‘n plasing gemaak en sy innige meegevoel aan die familie en vriende betuig. “Ons as ‘n klas gaan jou baie mis. Jou sitplek is leeg, maar ons sal altyd jou herinneringe koester.”

Talle medelye op sosiale media het die invloed wat Fiano op mense gehad het, getoon.

• Die begrafnis is Saterdag 9 Mei. Die huis­diens is by Witstompneusstraat 4 om 09:00 en die kerkdiens om 10:00 by House of Prayer Global Ministries, White City.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 7 May 2026
    Weslander E-Edition – 7 May 2026

Gift this article