Ruan Jordaan, Carlo Smuts, Louwrens Mahoney en Henry Lubbe bid op die strand voor hul volgende vertrek. Foto: Carlo Smuts

Wat as ‘n avontuurlustige uitdaging begin het, het as ‘n diep, nederige ervaring vir vier vriende, wat Suid-Afrika se kus per jetski aangepak het om bewusmaking oor boere se gemoedstoestand te skep, geëindig.

Die groep, bekend as Coast to Coast for Farmers, het sowat 3 000 km met die land se kuslyn langs afgelê – van Sodwana-baai in KwaZulu-Natal tot naby Alexanderbaai in die Noord-Kaap. Die tog het op 13 Maart 2026 begin ná ‘n weerverwante vertraging en het oor ongeveer 16 dae gestrek.

Hulle het ook in die Weskus aangedoen.

Volgens Carlo Smuts, een van die deelnemers, was die hart van die projek van die begin af duidelik – om boere emosioneel te ondersteun. “Ons is vier avontuurlustige vriende wat ‘n hart vir die land en sy boere het. Ons het saam besluit om hulle te ondersteun – spesifiek vir hul gemoedstoestand in die omstandighede waaronder hulle moet bestaan,” het hy gesê.

Die fokus was nie op geldinsameling nie, maar op iets eenvoudiger – en dalk belangriker. “ ’n Mens kan nie altyd finansieel bydra nie, maar ons kan hulle geestelik ondersteun,” het Smuts verduidelik.

Die span het gemiddeld sowat 180 km per dag afgelê en ongeveer agt ure per dag op die jetski’s deurgebring – dikwels van vroegoggend tot laataand. Sonder ‘n rugsteunspan moes hulle self plan maak vir uitdagings soos brandstof en veranderlike weerstoestande. “Die grootste uitdaging was die weer. Nes boere nie weet wat môre se weer gaan bring nie, het ons vir dae lank nie geweet hoe die volgende dag gaan lyk nie,” het Smuts gesê.

Hy erken die fisieke uitdagings was groot, maar dit was juis die emosionele impak van die reis wat hulle bygebly het. “Dit wat ons elke dag vir ‘n kort rukkie moes trotseer, is iets wat baie boere elke dag beleef.”

Namate die reis gevorder het, het boere hulle begin opsoek – oomblikke wat die span diep geraak het. “Ons was baie spesiale ervarings gehad. ‘n Boer van Cradock het ons in Plettenbergbaai kom ontmoet, ons bedank en gesê hulle sien ons raak. Ons het saam op die strand gebid; dit was ‘n baie nederige ervaring.”

Nog ‘n ontmoeting met ‘n boer in die voerkraalbedryf het hul perspektief verder verdiep. “Hy het gesê as die Here nie vir hom vanjaar deurkom nie, sal dit die eerste keer wees,” het Smuts vertel.

Vir Smuts persoonlik was die reis ook ‘n geloofsreis. As die onfiksste lid van die groep het hy daagliks vir krag gebid. “Ons was heeldag in die son, wind en weer;  hande en lippe gebars, heeltyd nat. Ek het bonatuurlike krag ervaar om aan te hou.”

Ten spyte van die fisieke eise, sê Smuts dit was hul samewerking wat hulle deurgedra het. “Ons was die regte vier vriende vir hierdie reis. Ons het mekaar onder­steun en deur alles gemotiveer.”

Smuts het ook genoem van hul reis deur die Weskus en veral sy dankbaarheid oor die Weskus se gasvryheid en bereidwilligheid om te help, uitgespreek. Hulle is byvoorbeeld in Langebaan gehelp om hul jetski’s oornag te los, by Hondeklipbaai is hulle gehuisves en in Lambertsbaai het mense vir hulle brandstof gebring.

Die grootste nalatenskap van die tog lê egter in hul kernboodskap aan gemeen­skappe: Reik uit na boere. “Ons het geen geld ingesamel nie – ons doel was om bewustheid te skep. Gaan na jou naaste boer en vra hoe dit regtig met hom gaan, veral met sy hart,” het Smuts beklemtoon.

Hy glo boere praat nie maklik oor hul emosies nie. “Ons boere is sterk en hou baie dinge binne. Dit maak dit des te belang­riker dat mense uitreik en gesels.”

Met die voltooiing van die Coast to Coast for Farmers-tog hoop die span dat Suid­Afrikaners nie net bewus sal wees van boere se uitdagings nie, maar daadwerklik na elke boer sal uitreik. “Die Here kom altyd vir jou deur; vertrou op Hom,” het Smuts afgesluit.

Die span bestaan uit Carlo Smuts, Henry Lubbe, Louwrens Mahoney en Ruan Jordaan; vier vriende wie se reis oor die see uiteindelik gehandel het oor iets baie dieper – om gesien, gehoor en ondersteun te word.

• Besoek Coast to Coast 4 Farmers se webblad vir nog foto’s en video’s.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 30 April 2026
    Weslander E-Edition – 30 April 2026

Gift this article