Ná ‘n strawwe seisoen in die die Lagoon-rolbalklub op Langebaan se Wintersakeliga, is ‘n gedugte viermanskap – die Old Men’s Blend wat hul eerste buiging in die liga gemaak het – gisteraand (Donderdag 23 April) as die wenspan gekroon.

Altesaam 24 spanne het sedert Maart in twee afdelings aan die wintersakeliga deelgeneem: twaalf spanne het dit op Dinsdagaande (Afdeling 1) en twaalf op Donderdae (Afdeling 2) uitgespook.
Punte het op die ou end bepaal wie die algehele toptwaalf behaal.
Dié twaalf topspanne het dit gisteraand om die wenskild uitgespook, met Old Men’s Blend wat met die louere weggestap het deur Boesmanland-slaghuis te wen. Boesmanland se 2de plek beteken hulle skuif drie plekke op van die vorige seisoen af.

In die 3de plek is Headline Blinds, wat een plek laer as in 2025 eindig. Hulle wen Eco Sport wat weer die 4de plek behaal.


Hyundai eindig 5de, twee plekke hoër, deur die lewenslustige span van Copy & Paste te wen. Copy & Paste val in die 6de plek met drie plekke.

Joshua van Zyl. Foto: Alida Buckle

Die Rolling Oldies wen Comtel om 7de te eindig. Comtel in die 8ste plek klim met vier plekke.


Tweede Kans wen Alu Station om 9de te eindig. Dit beteken Tweede Kans (10de) het een plek opgeskuif en Alu Station het drie plekke laer geëindig.

Fish Eagles wen Husky’s Restaurant & Bar om onderskeidelik 11de en 12de te eindig.


Weslander, wat twee seisoene afwesig was, eindig 13de deur die simpatiek-gedoopte “Up and coming”-kroon op te eis.


Harcourts stap in die 24ste plek weg met die “Stone Last”-trofeë.
Die spanne wat 14de to 23ste eindig is in volgorde Suzuki Vredenburg, Magic Services, Graythorne, Watergat, Toyota, Langebaan Holiday Homes, Pistor Attorneys, Langebaan Chambers, West Coast Flooring en Beachcombers.

Die sakeliga gee die Lagoon-rolbalklub ’n welkome geldelike hupstoot om onder meer die gronde op te knap en in stand te hou, maar die groter waarde lê in die aankweek van ’n liefde vir die sport.
Die klub se geriewe word boonop in ’n ongelooflike goeie toestand gehou, en selfs met die swaar reën die afgelope tyd was die setperk steeds speelbaar – iets waarop die klub besonder trots kan wees. Selfs motreën kon nie die spanne Dinsdagaand van die baan af kry nie; dis aanhouers wat wil speel.
Vir die klublede is dit elke seisoen ’n plesier om nuwelinge touwys te maak en die fynere kunsies en tegnieke van die spel oor te dra. Die reëls word geduldig verduidelik en stap vir stap ingeoefen. “Teen die derde aand kan ons maar terugstaan, dan weet almal wat om te doen,” sê Herman van Lill, sameroeper van die sakeliga, altyd.
Spelers kon elke aan heerlike kerrie-en-rys, hamburgers of worsrolle koop, wat deur die klub verkoop is.
Die volgende sakeliga vind na verwagting in September plaas, met moontlik een oefenaand per week per maand in die pyplyn. Datums sal nader aan die tyd deurgegee word.
Hier is van die aksiefoto’s geneem deur Alida Buckle en Blaze Buckle.
































- Indien jy van die foto’s wil aflaai en aanstuur, gee asseblief net erkenning aan Weslander om die redaksie se harde werk en die tyd wat spandeer is om dié eindronde by te woon, te respekteer.
Nog foto’s:













You must be logged in to post a comment.