Om sy gemeenskap en klub trots te maak met sy groot prestasie is ‘n eer vir Liam Schroeder (16).
Die St.Helenabaai-inwoner en lid van die St.Helenabaai-skaakklub is gekies om deel te wees van die Suid-Afrikaanse skaakspan wat van Saterdag 16 Mei tot Dinsdag 26 Mei in Sri Lanka gaan deelneem.
Liam is as gevolg van sy goeie vertonings by die Wes-Kaapse skolekampioenskap as lid van die Wes-Kaapse span gekies om deel te neem aan die Mzansi-jeugkampioenskap in Gqeberha in Desember 2025. Hy is daarna genooi na die Suid-Afrikaanse junior geslote skaakkampioenskap wat vanjaar in die Maartvakansie in Rustenburg plaasgevind het. Hier het hy die twaalfde plek verwerf en is sodoende in die Suid-Afrikaanse jeugspan opgeneem.
Volgens Enrico Abdol, voorsitter van die St. Helenabaai-skaakklub, beantwoord hierdie prestasie gebede.
“Hy plaas nie net sy dorp en gemeen- skap op die kaart nie, maar skaak ook.”
Janine Schroeder, Liam se ma, sê sy is baie trots op haar seun en wat hy tot dusver bereik het.
Liam is opgewonde oor dit wat voorlê en beoog om die Weskus se naam hoog te hou.
◘ Help Liam met sy koste vir vervoer, akkommodasie en meer. Skakel Abdol by 076 766 8240 vir meer inligting.





