‘n Nuwe plaaslike ontleding van brandstofpryse vir die eerste kwartaal in 2026 toon interessante patrone vir petrol en diesel in die Weskus.
Die opname dek Januarie tot Maart en vergelyk pryse by die gebied se groot vulstasies en kan verbruikers help om beter beplanning vir hul brandstofuitgawes te doen.

Data: Weskus-kruidenierswaremandjie-opname
Dr. Clive Coetzee en sy gesin het in Januarie 2026 benewens die brandstofpryse ook ‘n kruideniersware-opname begin, wat ‘n standaardmandjie van 20 alledaagse artikels dek. Dit sluit brood, eiers, melk, hoender, skaaptjops, rys, pasta en ander basiese goedere in.
Die opname het getoon dat inwoners in Velddrif gemiddeld tot R70 (6%) per mandjie goedkoper kon inkopies doen in vergelyking met die duurste winkels in die streek.
Velddrif bied gemiddeld die beste waarde vir geld, gevolg deur Vredenburg en Saldanha. St Helenabaai is die duurste gevolg deur Langebaan.
Januarie 2026
In Januarie het petrol relatief bestendig gebly, met die laagste prys by Elegant in Velddrif teen R20,19 en die duurste by Total in Langebaan teen R20,22, ‘n verskil van net drie sent.
Diesel was egter meer wisselvallig, goedkoopste by die Total by die Silos in Vredenburg teen R18,23, terwyl die duurste by Total in St Helenabaai (R21.16), ‘n verskil van R2.93. Gemiddeld het gebruikers R20.21 vir petrol en R19,88 vir diesel betaal.
Februarie 2026
In Februarie het petrolpryse ‘n bietjie gedaal. Die laagste prys was by Velddrif teen R19,54, terwyl die duurste by Astron in Langebaan teen R19,57 verkoop is, ‘n verskil van net drie sent. Diesel se prys was laer, met Total by die Silos in Vredenburg wat die laagste prys van R17,66 aangebied het, terwyl die duurste weer by Total in St. Helenabaai was teen R20,59, ‘n verskil van R2.93.
Die kruideniersware-opname het in Februarie ‘n merkbare styging in pryse getoon. Die gemiddelde mandjieprys het met R24,11 tot R986.66 by die goedkoopste winkel, Usave Langebaan, gestyg. In Januarie was die winkel met die goedkoopste mandjie die Vredenburg Spar.
Die grootste styging in Februarie is by Spar Saldanha (9,6%) en Spar Vredenburg (10,0%) aangeteken, terwyl sommige winkels soos Food Lovers Vredenburg (-1,54%) en St. Helenabaai Spar (-1,40%) se pryse gedaal het.
Maart 2026
Maart het ‘n soortgelyke patroon getoon vir petrol, met Elegant in Velddrif steeds die goedkoopste petrolverskaffer teen R19,74 was en Total in Langebaan die duurste teen R19,77, ‘n minimale verskil van drie sent.
Dieselpryse het egter in Maart dramaties gestyg met Puma in Saldanha die goedkoopste (R19,22), maar die duurste was Total in St. Helenabaai teen R24,26, ‘n verskil van R5,04. Die gemiddelde prys was R19,77 vir petrol en R20,67 vir diesel. Vir die eerste keer was diesel duurder as petrol.
Sleutelbevinding
Petrolpryse het baie bestendig gebly, met die grootste verskil slegs R0,03 tot R0,05 per maand. Februarie was die goedkoopste maand en Velddrif se Elegant- en Engen-vulstasie het deurlopend mededingende pryse aangebied.
Diesel was baie meer wisselvallig met ‘n dramatiese styging in pryse in Maart.
Die Total by die Silos in Vredenburg en Puma in Saldanha se pryse was voortdurend die laagste, terwyl Total in St. Helenabaai die duurste was, gevolg deur die vulstasies in Langebaan.
Die opname beklemtoon dat verbruikers aansienlik kan bespaar deur pryse te vergelyk en waar nodig verder te ry vir beter waarde.






You must be logged in to post a comment.