Meedoënlose vervolging van huisrowers wat vakansiegangers op Paternoster besteel het, het tot die suksesvolle terugbesorging van ‘n raakskerm-tablet en ‘n splinternuwe kamera en toerusting ter waarde van meer as ‘n kwartmiljoen rand gelei.
Sers. Geraldine Miggel en sers. Lindo Kuhle Makupula van die Vredenburg-polisie se speurtak het Donderdag 12 Maart ‘n klagte in Sonkwasstraat, Paternoster, ondersoek waar rowers die duur toerusting gedurende die nag gesteel het.

Die paartjie met vakansie het doodgerus opgestaan en gaan stap en met die terugkomslag besef dat die tablet (iPad) en kamera met ‘n sak vol toerusting van meer as R245 000 deur die nag gesteel is.
Hulle het glo nie die vakansiewoning behoorlik gesluit nie.
Omstreeks 11:00 dié oggend het die gesteelde tablet ‘n sein na die eienaar uitgestuur.
Hy het die inligting aan die polisie deurgegee, waarop sers. Brandall Cananie van die Weskus-blitspatrollie dit opgevolg het. Sy soektog het hom tot by ‘n adres in Soutrivier gebring, waar die tablet by ‘n verdagte gekry is.
Intussen het die polisiebeamptes uitgevind dat die drie verdagtes in ‘n silwer Peugeot rondry. Die polisielede het Vrydagmiddag na kringtelevisie-materiaal by ‘n vulstasie in Soutrivier gaan kyk en die motor se registrasienommer gesien. Die motor is as verdag op die polisie se netwerk deurgegee en later by die kruising na Atlantis vasgetrek.
Daar is 20 Mandrax-tablette en kontant by die insittendes gekry en drie mans is in hegtenis geneem.

Die kamera en toerusting is met behulp van sers. Elvin Koopman van die Langebaanpolisie gekry. Hy het aangebied om die twee vrouesersante, Miggel en Makupula, Kaap toe te vergesel om die kamerasak met verskeie duur lense en ander toerusting op te spoor.
Die polisie het die sein gevolg wat deur ‘n versteekte verklikker in die kamerasak uitgestuur is. Dit het hulle gelei na die woonplek waar die kamerasak onbeskadig teruggevind is.
Een beskuldigde het reeds in die Atlantis-landdroshof verskyn. Daar is vasgestel dat hy ‘n rits vorige veroordelings teen hom het.
Intussen het een van die drie beskuldigdes teen die ander gedraai en getuig nou teen hulle. Die derde beskuldigde het Dinsdag 17 Maart in die Vredenburg-landdroshof verskyn.
Kol. Lindie Marx, stasiebevelvoerder van die Vredenburg-polisie, het gesê sy is uiters trots op die speurders se deursettingsvermoë. “Dit is uitstekende werk!”






You must be logged in to post a comment.