Die polisie-uitgereikte Z88-pistool. Foto: SAPD

Wakker manne op patrollie in Witteklip het die afgelope Saterdag (14 Maart) ‘n verdagte man wat by ‘n erf ingehardloop het, agternagesit en gesien hoe hy ‘n vuurwapen neergooi.

Hy was een van drie verdagte mans wat met hul toestemming deursoek is.

Volgens die Vredenburg-polisie dui die tipiese sterretjie op die sykant aan dat dié 9-mm-pistool ‘n polisie-uitgereikte Z88-pistool is.

Die verdagte is op aanklag van die besit van ‘n vermoedelik gesteelde vuurwapen in hegtenis geneem.

Hy het vandeesweek in die Vredenburg-landdroshof verskyn.

Intussen is die pistool se reeksnommer nagegaan, wat wys dit is in Oktober 2017 in Bellville as gesteel aangemeld.

Kol. Lindie Marx, die stasiebevelvoerder van die Vredenburg-polisie, het die betrokke polisielede en wetstoepassingsbeamptes geloof vir die goeie diens wat hulle gelewer het. “Dit is ‘n teken dat die samewerking tussen die onderskeie rolspelers in die Saldanhabaai-sekuriteitsinisiatief begin vrugte afwerp. Dit was puik werk.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article