Die Blitsbok-spelers Donovan Don van Velddrif en Shilton van Wyk van Saldanha het die Weskus weer eens trots gemaak.
Don is by die SA Ruby-toe- kennings as Curriebeker- Speler van die Jaar aangewys en Van Wyk as dier 7’s- Speler van die Jaar.
Volgens Don is dit ‘n ongelooflike eer om as Curriebeker- Speler van die Jaar erken te word.
“Dit beteken baie vir my persoonlik, want dit wys al die harde werk, opoffering en ure op die oefenveld is raakgesien. Maar ek sien dit nie net as my toekenning nie – dit behoort ook aan my spanmaats, afrigters en almal wat my deur die seisoen ondersteun het. Ek het talle baie spesiale oomblikke hierdie seisoen beleef, maar die een wat vir my die meeste uit- staan is toe ons as span ‘n groot wedstryd gewen het en almal saam kon vier. Daardie gevoel in die kleedkamer ná ‘n harde wedstryd is iets wat ek nooit sal vergeet nie,” vertel Don.
Vir hom is die sleutel tot sukses uithouvermoë en harde werk. “Ek het probeer om elke week beter te word, goed na my liggaam omgesien en altyd gefokus gebly op wat ek vir die span kan doen.”

Van Wyk is dankbaar vir die prestasie wat hy bereik het en sien dit as ‘n groot eer. “Vir my gaan dit nie net oor myself nie, maar oor my familie, spanmaats en afrigters wat my elke dag ondersteun. Harde werk, dissipline en baie ondersteuning van my familie en my span hou my gefokus en gemotiveerd.”
Wanneer van Van Wyk terugkyk op die seisoen, is dit die oomblikke in die wedstryde saam met sy span en die trots van sy familie wat vir hom die meeste beteken.

Ivan Dwashu, ‘n lid van die Shilton van Wyk-stigting, het met Weslander gedeel hoe ongelooflik trots hy op beide spelers is.
“Hierdie erkenning is nie net ‘n bewys van hul talent nie, maar ook van hul harde werk, dissipline en toewyding oor baie jare.
“Om op nasionale vlak erken te word – veral in ‘n rugbyland soos Suid-Afrika – is ‘n besondere prestasie. Dit beteken baie vir ons as vriende en vir die gemeenskappe waar hulle vandaan kom. Hulle wys jong spelers drome kan bereik word, as jy bereid is om die werk in te sit.”
Om die twee manne oor die jare te sien groei, is vir Dwashu baie spesiaal en emosioneel. “Ek onthou nog die dae toe hulle net jong seuns met groot drome en ‘n passie vir rugby was. Ons het saam die klein oorwinnings gevier en ook die moeilike tye beleef. Om nou te sien hoe hulle op die wêreldverhoog speel en hul land met trots verteenwoordig, is iets wat my hart warm maak. Dit wys net dat deursettingsvermoë, geloof en harde werk uiteindelik vrugte afwerp.”
Vir die volgende seisoen is dit Don en Van Wyk se doel om aan te hou groei as spelers en hul spanne te help om nog sukses te behaal.
Van Wyk moedig voorne-mende rugbyspelers aan om hard te werk, nederig te bly, in hulself te glo en altyd hul familie en hul komvandaan te onthou.
Don deel dieselfde sentiment en moedig jong spelers aan om elke oomblik van die spel te geniet.
“As jy ‘n droom het om groot rugby te speel, moet jy bereid wees om die harde werk in te sit en nooit op te gee nie.”
Weskussers het hul trots uitgespreek en ondersteun beide Don en Van Wyk op hul reis.






You must be logged in to post a comment.