Weskussers staal hulle vir ‘n moontlike brandstofskok in April. Indien verwagte prysstygings ‘n werklikheid word, sal dit die skerpste styging in brandstofpryse in die land se geskiedenis wees.
Weens die prys van ru-olie, wat sedert die begin van die voortslepende militêre konflik in die Midde-Ooste met sowat 40% gestyg het, en die rand/dollar-wisselkoers, kan die pryse van diesel en petrol moontlik onderskeidelik met R7 en R4 per liter styg.
Die brandstofprys raak elke aspek van die lewe, selfs toerisme. Vrese dat die land selfs binnekort deur ‘n ernstige brandstoftekort in die gesig gestaar kan word, word nou deur sommige kenners geopper.
Weslander het by sakekamers en landbouorganisasies gaan kers opsteek oor die impak van dié verwagte prysstygings op Weskussers. Volgens Gary Badenhorst, voorsitter van die Weskus-sakekamer, hou die vinnig stygende prys van Brent-ruolie beduidende gevolge in vir plaaslike ekonomieë in die Saldanhabaai-gebied, wat afhanklik is van vervoer, nywerheid, vissery en hawebedrywighede. “Ek is ‘n veteraan van die bedryf en het nog nooit ervaar wat nou op ons afstorm nie,” sê Badenhorst.
Hy verduidelik dat Saldanha ‘n hawe- en nywerheidsdorp is waar ekonomiese bedrywighede afhanklik is van die vervoer van goedere per pad, see en spoor. “Wanneer brandstofpryse styg, neem kostes van goedere en dienste toe. Dit raak logistieke kostes direk en lei tot verhoogde skeeps- en visserybedryfskostes. Kleinhandelaars betaal meer vir aflewerings, boere en produsente betaal meer om produkte te vervoer, en ekstra kostes word weer aan verbruikers oorgedra. Taxi-tariewe en pendelkostes neem toe, en gesinne het uiteindelik minder beskikbare en besteebare inkomste.”
Volgens Johnny Da Silva, voorsitter van die Velddrif Sakekamer, is ondernemings uiters bekommerd oor die verwagte brandstofpryse. “Brandstof is nie net ‘n vervoersaak nie. Duurder diesel en petrol raak uiteindelik die pryse van alle produkte en dienste in die dorp,” sê Da Silva. Hy beklemtoon dat die land se afhanklikheid van ingevoerde energiebronne kommerwekkend is.
Volgens Stoan Bartel, voorsitter van die Sakekamer in St. Helenabaai, is hulle ook uiters bekommerd oor die moontlike uitwerking van ‘n skerp brandstofprysstyging op plaaslike ondernemings. “Daar is ‘n risiko dat voortgesette brandstofprysstygings aktiwiteite in die plaaslike ekonomie negatief kan beïnvloed. Stygende vervoerkoste plaas druk op verbruikers, wat lei tot ‘n afname in besteding in sektore soos eetplekke, kleinhandel en toerisme.”
Die verwagte dieselprysstyging is ook slegte nuus vir die land se landbou-, bosbou-, vissery- en mynbousektore.
Volgens SP Tredoux, streekbestuurder van Agri Wes-Kaap in die Weskus, is die moontlike styging kommerwekkend vir die landbou. Boere word reeds verlam deur uitdagings soos dieselpryse, die hittegolf en bek-en-klouseer. ‘n Boer wat sowat 100 000 liter diesel per jaar verbruik, kan ‘n styging van meer as ‘n halfmiljoen rand in sy dieseluitgawes verwag.




