Duisende mense het die afgelope naweek by die Laaiplek-hotel saamgekuier toe die gewilde Weskus-kuierkonsert weer top-kunstenaars, pret en egte Weskus-gasvryheid na Velddrif gebring het. Van Fear Factor-uitdagings en kindervermaak tot ‘n energieke vertoning deur Snotkop, het die jaarlikse konsert weer bewys waarom die dorp trots praat van “ons konsert”.
Die gewilde konsert het oor die jare ‘n hoogtepunt op die Weskus se kalender geword en bied jaarliks top-kunstenaars, heerlike eetstalletjies en vermaak vir kinders. Volgens die eienaar en orga-
niseerder, Steyn Fourie, wat self ‘n professionele musikant is en reeds 14 jaar in Velddrif woon, word die konsert elke jaar net groter en beter.
Vyf jaar gelede het hy die visie gehad om ‘n konsert na die dorp te bring wat nie net die gemeenskap sou verenig nie, maar ook ‘n ekonomiese hupstoot vir Velddrif sou gee. “Sedertdien het die konsert gegroei van sowat 600 mense tot ongeveer 3 500 besoekers wat jaarliks kom saamkuier.
“Gaste moet altyd spesiaal voel, want dit is juis ‘n kuierkonsert en nie net ‘n fees nie. Velddrif praat van ‘ons konsert’ en die borge wat deel is, maak dit vir ons moontlik om elke jaar ‘n top-gehalte konsert te bied,” sê Fourie.
Vir die kinders was daar ‘n spesiale kindergebied met tradisionele tombola-speletjies soos vissie-vang en toutrek. Die plaaslike Laaiplek Spar het pryse en lekkers vir die kindergebied geborg. Besoekers het heerlik geëet, gelag en geskoffel terwyl verskeie aktiwiteite en kompetisies die dag vol gehou het.
Kort nadat die hekke oopgemaak is, het die plaaslike kunstenaar Gerrie West die verhoog betree, gevolg deur Ek’s Nadia, ‘n voormalige Velddrif-inwoner. Tussen die optredes het dapper konsertgangers ook ‘n Fear Factor-kompetisie aangepak, wat groot vermaak vir die skare gebied het. Deelnemers moes onder meer shooter-glase vol kakao-tipe poeier eet en ‘n mengsel van die bekende “Chef Moenie-kat-skiet-nie” afsluk, gevolg deur sy spesiale seekos-pizza.
Die eindronde het nóg groter moed geverg met ‘n dis van ‘n koei, gevolg deur ‘n sterk ruikende brownie as nagereg. Johan Olivier het as die dapper wenner uit die stryd getree.
‘n Belangrike deel van die konsert is die jaarlikse veiling waar geld vir ‘n gemeenskapsprojek ingesamel word. Vanjaar is genoeg geld ingesamel om warm komberse, mussies en serpe vir senior burgers in die dorp te skenk. “Ons probeer sover moontlik almal in die dorp betrek,” sê Fourie.
Weslander het ook die gewilde Koppie-tee-fontein-aanbieder en kunstenaar Jak de Priester in die VIP-gebied raakgeloop. Hy het die gehoor vermaak met treffers soos “Sally Williams Nougat”, “Roer jou voete”, “Groen Mamba” en “Ek sny dit af”. Desmond Wells het ook ‘n paar van sy eg-Weskus-liedjies gesing voordat die humoristiese duo, Bokkom & V’tsek, die skare laat skaterlag het met hul Weskus-stories en musiek op ‘n kitaar soos ‘n regte Weskus-vis. Die jongspan was opgewonde oor die Glowstick-danskompetisie voor die verhoog. Die groot oomblik van die aand het aangebreek toe Snotkop met rookmasjien-golwe op die verhoog verskyn het. Sy energieke optrede het die skare onmiddellik laat reageer.
Mense het saam gesing, gedans, hande geswaai en soos ‘n groot koor gevoel. Die gebied voor die verhoog het binne minute in ‘n dansvloer verander.
Ná die hoogtepunt van die aand kon konsertgangers nog tot middernag kuier met DJ Charity wat vir die ná-partytjie gesorg het. Volgens Fourie maak die borge dit moontlik om elke jaar ‘n besondere dag vir die gemeenskap aan te bied.
“Ons wil hê elkeen wat die konsert bywoon, moet wegstap met die gevoel: ‘Dit was nou ‘n lekker kuier.’” Gebaseer op die glimlagte van die skare was daardie visie beslis in die kol.










