Die hoofingang van die hofgebou wat na die twee hofsale lei. Foto’s Alida Buckle

Uiteindelik! Die historiese gebou tussen Kerk- en Piet Retief-straat wat een van die streek se besigste landdroshowe bevat – die Vredenburg-landdroshof – is geverf en lyk weer soos ‘n plek waar sake gedoen word.

Weslander het al in 2023 geskryf oor die haglike toestand waarin die gebou verkeer het (“Ongelukkigheid oor die haglike toestand van die historiese Vredenburg-landdroshof”, Weslander, 12 Oktober 2023). Dié gebou is in 1924 as die NG Moedergemeente se kerksaal gebou.

Op Dinsdag 10 Maart het die gebou weer soos ‘n werkende perseel gelyk wat pligsgetroue regsdienaars, administratiewe personeel en hofbeamptes huisves.

Verfwerk het aan die begin van Februarie aan die buitenste mure van die gebou en die omringende muur begin en is verlede Vrydag 6 Maart voltooi.

Die gemeenskap moes langer as ‘n dekade tevrede wees met die swak toestand van die gebou as hul eerste punt van kontak met regsake.

Vir die dekade lange hofbestuurder, Jocelyn Pietersen, was dit ‘n blye dag toe die departement van justisie laat weet dat die gebou geverf gaan word. Sy het jare vergeefs gewag op die departement van openbare werke, wat in beheer staan van alle staatsgeboue wat onder nasionale departemente val, om op haar versoeke te reageer.

Pietersen hoop ook dat die versoeke vir ‘n bykomende hofgebou op die perseel om al die tydelike opslaan-geboutjies te vervang, ook een van die dae sal vrugte afwerp.

Die tydelike geboue is nou, en beskuldigdes en getuies, regslui en die publiek skuur letterlik skouer om sitplekke in te neem. Baiekeer moet getraumatiseerde gesinslede in baie nabye kontak met oortreders sit om na ‘n hofsaak te luister. Aangehoudenes moet ook steeds met hul regsadviseurs oor hul private sake in die polisiekantoortjie by die selle konsulteer, ten aanhore van al die ander gevangenes.

Stuur e-pos na weslander@novusmedia.co.za of WhatsApp na 082 576 0453 oor jou siening oor die hof se nuwe baadjie.

‘n Glimlaggende Jocelyn Pietersen, hofbestuurder, voor die ingang van die straat af wat weer netjies lyk.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article