‘n Geliefde boer van Lambertsbaai is in ‘n kritieke toestand na ‘n Kaapse hospitaal gevlieg nadat hy ernstig aangerand is deur vermeende skaapdiewe.
Hugo Louw (56) het Donderdag 5 Maart ‘n groep mans langs die Lambertsbaai-pad (R365) naby die Wadrif-plaas ‘n saamrygeleentheid gegee. Hy is boer in die gebied wat ook bekend daarvoor is dat hy en sy orkes lekker dansmusiek maak.
Met die opklim van die mans agterop sy bakkie het hy hulle gevra wat in die sakke was wat hulle by hulle gehad het.
Die mans het hom hierop begin aanrand, want hulle het na bewering vleis van ‘n geslagte, vermoedelik gesteelde skaap in die sakke gehad. Die skaap is deur die nag op ‘n plaas geslag.
Ian Turner, bekende sakeman en boer van die omgewing, het aan Weslander gesê Louw het ernstig kopwonde opgedoen. Hy is met ‘n stomp voorwerp oor die kop geslaan en soos wat hy gekeer het, is sy hande met messe gesteek.
‘n Plaaslike dokter het Louw behandel en bygestaan totdat paramedici opgedaag het.
Volgens Elowayne Gouws van West Coast Medical Rescue is Louw daarna gestabiliseer voordat hy met ‘n Netcare 911-helikopter na die Kaap gevlieg is.
Turner beskryf Louw as ‘n Sandvelder in murg en been.
Van die plaaslike boere het help spoorsny tot hulle twee van die vermeende aanvallers opgespoor het waar hulle in die bosse wegkruip.
Volgens kapt. Tania Helfrich, distrikswoordvoerder vir die Weskus-polisie, is die verdagtes met bloedvlekke op hul klere gevind naby die plek waar ‘n geslagte skaap in die bosse versteek is.
Helfrich het gesê drie mans is in verband met die saak in hegtenis geneem op aanklag van poging tot moord, en hulle verskyn moontik vandag in die Lambertsbaai-landdroshof.
‘n Saak van veediefstal is ook deur die slagoffer se seun aanhangig gemaak, wat deur die veediefstaleenheid ondersoek word.




