Een van die onwettige vuurwapens waarop die polisie afgekom het. Foto’s: SAPD

Drie mans van Kaapstad het Dinsdag (17 Februarie) in die Vredenburg-landdroshof verskyn nadat hulle Sondagmiddag met twee ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie in hul besit in hegtenis geneem is.

Volgens kapt. Tania Helfrich, ‘n distrikswoordvoerder vir die Weskus-polisie, is Ndiphenkosi Qondani (45), Bongile Mhlolo (46) en Sive Salmane (25) in hegtenis geneem nadat lede van Vredenburg-polisie se misdaadvoorkomingseenheid op Sondag 15 Februarie omstreeks 16:00 ‘n silwer Suzuki-motor in Vredenburg opgemerk het wat oor ‘n rooi verkeerslig ry.

Die voertuig is agtervolg en voorgekeer.

Volgens inligting het die bestuurder uit die Suzuki geklim toe ‘n polisielid die voertuig nader.

Die polisielid het ‘n vuurwapen op die sitplek van die voertuig gesien en sy kollegas gewaarsku, waarna versterkings ontbied is.

Die polisie het ook gesien die voertuig het geen nommerplate op nie.

Een van die passasiers het glo probeer om iets onder ‘n sitplek weg te steek en is beveel om nie te beweeg nie.

Met die aankoms van versterkingslede is die twee passasiers beveel om uit die voertuig te klim. Tydens ‘n deursoeking van die voertuig is twee ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie gevind.

Nommerplate en balaklawas is ook agter in die voertuig aangetref.

Die bestuurder het volgens inligting wel ‘n geldige lisensie vir sý vuurwapen gehad.

Al drie mans is in hegtenis geneem en staan tereg op aanklagte wat met die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie verband hou.

Nog ‘n onwettige vuurwapen en ammunisie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article