Die departement van bosbou visserye en die omgewing (DFFE) het ‘n besluit geneem om die aantal kleinskaalse vissersvaartuie wat toegelaat word om see toe te gaan, van meer as 547 tot slegs 77 verminder.
Hierdie besluit het ‘n groot impak op die lewens van kleinskaalse vissers, wat hul brood en botter verdien deur dit wat hulle vang.
Vissers veg al jare vir hul regte en meen die implementering van hierdie besluit is nie volhoubaar nie. Hul doen ‘n beroep op die departement om die keuse te hersien en het op Dinsdag 10 Februarie ‘n memorandum aan die Portefeuljekomitee van die DFFE oorhandig waarin hulle vra dat die besluit teruggetrek word.
Verskeie koöperasies en organisasies het die memorandum geteken, onder meer die Weskus Kleinskaalse Vissersforum.
Volgens Hilda Adams, voorsitter van die Weskus Kleinskaalse Vissersforum is hulle meegedeel dat wetenskaplikes vasgestel het hoeveel bote see toe mag gaan, maar Adams meen hulle is al geskiedkundig vir jare vissers wat sonder die inmenging van wetenskaplikes goed gevaar het.
“Die besluit is teenstrydig teen die beleid wat ons ontvang het, dit is teenstrydig met die regulasies en die ondersteuning wat die departement vir ons as kleinskaalse vissers belowe het. Die vraag is hoe nou gemaak? Daar is nie ‘n permanente oplossing nie. Ons word direk geraak en word totaal ontneem van ons reg om ‘n bestaan te maak en ons menseregte,” voeg Adams by.

Volgens Naomi Cloete, die direkteur van die Paternoster Multipurpose Fishing Cooperation, is hierdie kwessie ‘n groot probleem. “Ons is afhanklik van die see en nou word daar gesê net een of twee bote mag uitgaan. Dit gaan onmin in die dorpe saai, want vir wie gee jy die permit om te gaan visvang en vir wie nie? Dis moeilikheid soek. Hulle verarm ons by die dag. Dit is nie regverdig nie en die regering dink niks van ons nie.”
Christian Adams van Steenberg’s Cove, wat al van 2008 ‘n kleinskaalse visser is, meen die vermindering van bote raak hom en sy gesin. “Daar was geen konsultasie van kleinskaalse vissers nie en ons was nie geken in die saak nie. Die kommersiële bedryf word geken in die besluite wat geneem word saam met die departement, maar die kleinskaalse vissers word uitgesluit uit die besluite wat hul lewens beinvloed.”
Vissers meen hierdie besluit het nie net ‘n impak op hulle lewens nie, maar ‘n kettingreaksie op die res van die sektor en ander werkers.
In ‘n verklaring uitgereik deur Noluthando Makasi, waarnemende voorsitter van die DFFE Portefeuljekomittee, stem die komitee saam dat ‘n onmiddellike hersiening van die toewysingsbesluit ‘n betekenisvolle en deursigtige konsultasieproses moet volg, wat beide lewensbestaan en volhoubare visvangpraktyke balanseer, wat huidige en toekomstige geslagte sal bevoordeel.





You must be logged in to post a comment.