Ná 40 jaar in die onderwys het Mona Maarman, ‘n onderwyser by St. Andrew’s Primêr, afgetree.

Maarman het haar 40 jaar diens by St. Andrew’s Primêr in Desember 2025 geëindig, ‘n tyd wat sy altyd sal koester.

Hoewel sy ‘n mikrobioloog wou word, moes sy weens finansies terugval op haar tweede keuse, die onderwys.

“Ek is lief vir kinders en die passie om met hulle te werk is die wenkombinasie vir enige onderwyser. Dit is wanneer jy die beste uit hulle kry,” meen Maarman.

Sy is as gr. 7-onderwyser aangestel en het hoofsaaklik wiskunde en wetenskap aangebied.

“Ek het ‘n groot liefde vir die 13-jaar- ouderdomsgroep ontwikkel en daar was talle hoogtepunte in my loopbaan. Een was toe St. Andrew’s aan die Nasionale Parke-kompetisie deelgeneem het en die Weskus Nasionale Park by die Nasionale Jeugsimposium met hul projek moes verteenwoordig.

“Dan was daar ook die leerders se besondere prestasies in wiskunde en wetenskap; onder meer in Astroquiz, Robotics and Coding, wiskunde-Olimpiades, Eskom-ekspo vir Jong Wetenskaplikes en STEM-aktiwiteite. As gevolg van hierdie aktiwiteite is lewenslange verbintenisse met oud-leerders soos professors, dokters, advokate, ingenieurs, en ander rolspelers soos die plaaslike ArcelorMittal-wetenskapsentrum gesmee. Ek was bevoorreg om so baie van die rolspelers te onderrig.”

Volgens Glendaleen van Wyk, wie se drie kinders ook onder die hand van Maarman opgelei is, is Maarman ‘n huishoudelike naam in Diazville, White City en onderwyskringe. “Met haar bekende, sku glimlag het sy die kurrikulum getrotseer. Al drie my kinders is deur haar hande en nooit het hierdie juffrou toegelaat dat die lewe of die veranderde onderwys haar onderkry nie. Juffrou was ‘n opvoeder en nie net ‘n onderwyser nie. Facebook spreek boekdele en getuig van hoe juffrou Maarman leerders beïnvloed het.”

Volgens Maarman gaan sy die interaksie met haar kollegas en die kinders baie mis. “Onderwys was nie net ‘n beroep nie, dit was my passie. St. Andrew’s is geseën met baie goeie onderwysers. Daar is so baie waaroor ek kan lag en dankbaar wees dat God my geleentheid gegee het om met sy kosbare skeppings te werk, om die wat stukkend is weer heel te probeer maak, aan te moedig om nie op te gee nie en die trane af te droog. Dit het die ekstra ure en opoffering alles die moeite werd gemaak.” Vir eers gaan Maarman rus en aftrede ten volle geniet.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 30 April 2026
    Weslander E-Edition – 30 April 2026

Gift this article