Sedert die begin van Januarie 2026 het die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) altesaam 26 312 gr. R, gr. 1- en gr. 8-leerders reg oor die provinsie geplaas.

Dit is benewens die tienduisende leerders wat in 2025 geplaas is.

Ten spyte daarvan dat 96% van alle leerders wat verlede jaar aansoek gedoen het – insluitend laat aansoeke wat tot 10 Desember ingedien is – geplaas is, het die WKOD ‘n ongekende getal uiters laat aansoeke aan die begin van 2026 ervaar. Sedert die begin van Januarie 2026 het die WKOD 25 065 uiters laat aansoeke vir gr. R, gr. 1 en gr. 8 ontvang.

Volgens Bronagh Hammond, WKOD- woordvoerder, het amptenare hard gewerk om leerders so gou as moontlik te plaas.

“Die feit dat meer as 26 000 plasings binne vier weke gemaak is, is ‘n merkwaardige prestasie deur ons span.

“Terwyl ons die plasing van tienduisende leerders in ‘n buitengewoon kort tydperk vier, bly ons bewus daarvan dat nuwe, uiters laat aansoeke steeds daagliks aankom. Hierdie word dringend hanteer, en ons doen ‘n beroep op die publiek om amptenare die ruimte te gee om hierdie werk te voltooi. Die WKOD bly daartoe verbind om te verseker dat elke leerder in die Wes-Kaap so gou as moontlik ‘n plek in die skool het,” sê Hammond.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 30 April 2026
    Weslander E-Edition – 30 April 2026

Gift this article