Net voordat die somerson sy tasse pak om ander wêrelddele te besoek, is André Huysamen gereed om die laaste maand van die seisoen voluit te omhels met die vrystelling van sy splinternuwe enkelsnit, “Son, See en Soen”.
“Son, See en Soen” is ‘n opregte viering van die Weskus van Suid-Afrika, ‘n plek wat dié Yzerfonteiner met trots sy tuiste noem. Die snit is vervaardig deur Tiaan Grundling en bevat al die eienskappe van ‘n ware sokkie-treffer.
“Hierdie liedjie het ongelooflik maklik en vinnig ontstaan,” vertel Huysamen.
“Ek het dele daarvan in die kar geskryf op die pad tussen Paternoster en Yzerfontein. Dis ‘n huldeblyk aan al my gunsteling-plekke in die Weskus. Die produksie is beslis uit die boonste rakke. Grundling het ‘n ongelooflike oor vir wat werk en wat nie werk nie, en ek vertrou hom volkome om lewe aan my lirieke te gee. Ek kon nie vir ‘n beter vervaardiger gevra het nie.”
Met ‘n nostalgiese klank, geïnspireer deur die middel jare 2000 se Afrikaanse treffermakers soos Fredi Nest en Ray Dylan, vang “Son, See en Soen” ‘n era vas toe Afrikaanse musiek ‘n ware kulturele verskynsel was.
“Met alles wat tans in die wêreld aangaan, het ons ‘n groot glimlag nodig. Die lewe is kort en onvoorspelbaar, daarom moet ons dit elke dag vier saam met die mense wat ons liefhet, nie net op verjaarsdae of spesiale geleenthede nie. Die oomblik is nou.”
“Son, See en Soen” is van Vrydag 13 Februarie op alle digitale platforms beskikbaar.





