Die Weskus se rugbyklubs is volstoom besig met voorbereiding vir die komende Boland-grootuitdaagbeker-kompetisie, wat vroeg in Maart afskop.
Ná die Saldanhabaai-rugbyklub se verowering van die Boland-rugbyunie se Top-12-trofee teen Roses United verlede jaar in Wellington, heers groot verwagtinge dat die Weskus streekspanne weer ‘n sterk seisoen gaan beleef.
Vredenburg, wat in 2025 as naaswenner van die Weskusstreek geëindig het, het Saterdag (31 Januarie) sy eerste vriendskaplike wedstryd van die nuwe jaar in die Transnet-stadion in Saldanha gespeel. Die Burg Boys het die kampioen van 2025, Saldanhabaai, die stryd aangesê in wat sommer vroeg ‘n derby-gees op die veld gebring het. Dit was ook die buiging van Thyrone Williams as hoofafrigter van Vredenburg teen Saldanhabaai.
Die kragmeting was vir albei klubs waardevolle voorbereiding vir die seisoen wat voorlê, wat selfs tot Desember kan strek met die Top-12-reeks se uitspeelwedstryde en eindronde.
Nog ‘n buurklub, St. Helenabaai-rugbyklub, het ook sy voorseisoen afgeskop met ‘n vriendskaplike wedstryd op die Laingville-sportterrein. Hulle het die 2025-semifinalis, Multisure Villagers van Worcester, die stryd aangesê en met ‘n oortuigende oorwinning weggestap. Hoewel dit die eerste wedstryd was, was die klub se ambisie vir die nuwe seisoen sigbaar.
Ná afloop van die wedstryd het Williams aan Weslander Sport gesê sy eerste wedstryd was “‘n bietjie senutergend”. Hy het egter beklemtoon dat hy tevrede is met hoe die spelers sy plan en afrigtingstyl aanvaar het. “Ons weet dit gaan nie altyd maklik wees nie, maar die belangrikste is dat ons by die plan hou en saam vorentoe beweeg,” het Williams gesê.
Hy het verder uitgewys dat die derby teen Saldanhabaai ‘n voorsmakie was van die wedywering in die Grootuitdaagbeker-kompetisie vorentoe.
“Die intensiteit van die wedstryd wys dat die spanne reg is om mekaar te takel. Dit is presies die soort toets wat ons nodig het om te sien waar ons staan en wat nog geslyp moet word voordat die seisoen regtig begin,” het hy bygevoeg.
Uitslae van die vriendskaplike wedstryde:
• Saldanhabaai I 5-38 Vredenburg I
Saldanhabaai II 0-34 Vredenburg II
• Vredenburg III 28-22 Louwville
• St. Helenabaai I 40-17 Villagers Worcester I
• St. Helenabaai II 31-7 Villagers Worcester II en
• St. Helenabaai III 7-14 Villagers Worcester III



