Baie mense glo steeds dat spanning en trauma iets is wat net mense raak. Uitdrukkings soos “dis net ‘n hond” of “dis net ‘n kat” word maklik gebruik, maar die werklikheid is dat troeteldiere emosies veel dieper ervaar as wat ons soms besef.

Al verstaan hulle nie altyd wat om hulle gebeur nie, voel hulle dit aan – en dikwels dra hulle daardie spanning ‘n lang ruk saam.

In gemeenskappe waar mense self onder groot druk leef, word diere se emosionele welstand maklik misgekyk, al het dit ‘n groot invloed op hul gedrag, gesondheid en verhouding met mense. Spanning by ‘n dier is ‘n natuurlike reaksie op iets wat hulle as bedreigend, verwarrend of oorweldigend ervaar. Dit kan iets tydeliks wees, soos harde geluide of onbekende mense, maar dit kan ook oor tyd opbou. Trauma ontstaan gewoonlik ná ernstige of herhalende ervarings, soos mishandeling, verwaarlosing, ‘n aanval deur ‘n ander dier of die verlies van ‘n eienaar. Omdat diere nie woorde het om hul pyn te beskryf nie, wys hulle dit deur hul gedrag en liggaam. ‘n Hond wat eens vriendelik was, kan aggressief raak, terwyl ‘n kat kan begin wegkruip en ophou eet. Dit is nie “stout” gedrag nie, maar eerder ‘n teken dat iets verkeerd is.

In baie huishoudings is daar dinge wat vir mense normaal voel, maar vir diere uiters stresvol is. Harde musiek, konstante skreeuery, bakleiery en chaos laat diere onseker voel. Gereelde veranderinge, soos om te verhuis, nuwe mense of diere in die huis of kinders wat nie leer hoe om sag met diere te werk nie, dra ook by tot spanning. In sommige gemeenskappe ervaar diere addisionele uitdagings soos lang tye alleen, beperkte kos, min veeartsenykundige sorg en onveilige omgewings. Straatdiere of diere wat al mishandel is, leef dikwels in ‘n toestand van voortdurende waaksaamheid.

Spanning en trauma kan op verskillende maniere na vore kom. By honde sluit dit oormatige blaf, grom, byt, bewe, wegkruip of selfs huisvuil in. Sommige onttrek en raak stil.

Katte kan buite die katbak urineer, aggressief raak, hulself oormatig was of konstant wegkruip. Daar is ook fisiese tekens soos gewigsverlies, diarree, braking, haarverlies en herhalende siektes. ‘n Gestresde dier se immuunstelsel is swakker, wat beteken hulle word makliker siek.

Wanneer trauma nie behandel of opgelos word nie, raak dit deel van die dier se daaglikse bestaan. Hul liggame bly in ‘n konstante toestand van gereedheid, asof gevaar enige oomblik kan opduik. Dit maak dit vir hulle moeilik om te ontspan, mense te vertrou of nuwe situasies te hanteer. Ongelukkig word sulke diere dikwels as “problematies” bestempel en gestraf of selfs weggegee, sonder dat die ware oorsaak raakgesien word. In baie gevalle is hul gedrag die gevolg van vrees en onverwerkte trauma, nie ‘n slegte geaardheid nie.

Gewone mense kan egter ‘n groot verskil maak. Diere het nie luukshede nodig nie, maar wel voorspelbaarheid, sagtheid en veiligheid. Eenvoudige roetines, rustige hantering en ‘n veilige plek om te rus, help reeds baie. Skree en fisieke straf maak spanning net erger. Geduld, ruimte en begrip is dikwels die beste medisyne.

Wanneer ons begin verstaan dat troeteldiere ook emosioneel kan seerkry, verander ons verhouding met hulle. Mense en diere kan mekaar help genees. Soms is empatie al wat nodig is om ‘n bang of gebroke dier weer hoop te gee.

‘n Skrikkerige kat sal dikwels wegkruip. Foto: Fuyiki SGC 1993 | Unsplash

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article