Duisende ongewenste hondjies en katjies word elke jaar in Suid-Afrika gebore –baie sonder ‘n kans op ‘n liefdevolle huis. Diere-organisasies en skuilings probeer hul bes om hierdie diere te red en nuwe tuistes vir hulle te vind, maar daar is eenvoudig te veel diere en te min mense om hulle almal aan te neem.
Die beste manier om hierdie probleem op te los, is om troeteldiere te steriliseer.
Sterilisasie (spaying) vir wyfies en kastrasie (neutering) vir mannetjies is ‘n eenvoudige veeartsenyprosedure wat keer dat diere voortplant. Dit is veilig en bied groot voordele vir jou troeteldier
en die gemeenskap. Diere kan selfs voor ses maande gesteriliseer word om te voorkom dat hulle hul eerste hitte- of broeisiklus bereik.
Vir wyfies verlaag sterilisasie die risiko van borskanker en voorkom dit ernstige baarmoederinfeksies, wat dodelik kan wees as dit nie behandel word nie. By mannetjies voorkom dit testikulêre kanker en verminder prostaatprobleme wat later in hul lewe kan voorkom. Oor die algemeen leef gesteri-
liseerde diere langer en gesonder, omdat hul hormone meer gebalanseerd is en hulle minder vatbaar is vir sekere siektes. Hulle hardloop minder rond, raak minder beseer en is rustiger, wat hul lewensgehalte verbeter.
Ongesteriliseerde mannetjies dwaal dikwels rond op soek na ‘n maat, wat hulle blootstel aan motorongelukke, gevegte en siektes soos parvo (katvigs) en hondebrucellose. Hulle merk dikwels hul gebied met sterk ruikende urine en kan aggressief raak teenoor ander diere.
Wyfies wat nie gesteriliseer is nie, raak in hitte en raak angstig, rusteloos en luidrugtig. Katte miaau aanhoudend, honde probeer ontsnap, en dit skep spanning vir eienaars en bure. Sterilisasie kalmeer hierdie gedrag, maak diere meer huislik en voorspelbaar en help hulle beter by ‘n gesinslewe aanpas. Dit bete-
ken minder stres vir almal in die huis.
Sterilisasie bring ook groot voordele vir die gemeenskap. Minder rondloperdiere beteken minder bytvoorvalle, minder siektes en minder druk op diere- skuilings. Elke werpsel wat voorkom word, spaar geld aan kos, mediese sorg en reddingswerk. Een teef kan binne ‘n paar jaar saam met haar nageslag duisende hondjies voortbring, waarvan baie nooit ‘n huis sal hê nie.
In gemeenskappe waar hulpbronne beperk is, kan sterilisasieprogramme ‘n groot verskil aan die welstand van diere en mense maak. Minder diere op straat beteken minder siektes wat versprei, minder ongelukke en ‘n veiliger omgewing vir almal. Organisasies soos die DBV bied gereeld laekoste- of selfs gratis sterilisasieveldtogte aan, wat eienaars die kans gee om sonder groot uitgawes verantwoordelik op te tree.
Sommige mense glo sterilisasie is wreed of onnatuurlik, maar dit is veel wreder om ongewenste diere te sien ly omdat daar nie huise vir hulle is nie. ‘n Gesteriliseerde dier verloor nie sy lewenslus of speelsheid nie; in baie gevalle word hulle rustiger, meer liefdevol en makliker hanteerbaar.
Om jou dier te laat steriliseer, is dus nie net ‘n daad van verantwoordelikheid nie, maar ook van liefde. Jy beskerm jou troeteldier se gesondheid, help voorkom onnodige lyding en dra by tot ‘n gemeenskap waar minder diere honger ly of siek of verlate is. Jou dier verstaan dalk nie die rede nie, maar jy doen dit vir sy gesondheid, sy veiligheid en die duisende diere wat nie ‘n kans kry nie.
• Bron: Spay USA. Vertaal deur Thys Louw.





