Met die feestyd wat verkeer na en deur die Weskus bring, word padveiligheid ‘n besondere bekommernis vir plaaslike inwoners en vakansiegangers. Duisende mense reis jaarliks na kusdorpe soos Langebaan, Velddrif en Paternoster, en meganiese onklaarraking weens swak voertuiginstandhouding bly een van die groot oorsake van ernstige padongelukke. ‘n Inspeksie voor vertrek is nie net ‘n voorsorgmaatreël nie, maar ‘n verantwoordelikheid teenoor almal op die pad.
Ashley Reddy, die hoof van naverkope- en handelaarsnetwerkbestuur by Audi Suid-Afrika, waarsku dat klein probleme groot gevolge kan hê. Verslete bande, swak remme of lae vloeistofvlakke kan teen hoë spoed vinnig in lewensgevaarlike situasies ontaard. Kenners beveel aan dat bestuurders voor ‘n lang rit op die basiese beginsels fokus:
• Bande en remme: Maak seker die bande het genoeg loopvlak en is tot die korrekte druk opgepomp. Remblokkies moet vir slytasie nagegaan word.
• Ligte en ruitveërs: Toets kopligte, remligte, rigtingwysers en ruitveërs om goeie sigbaarheid te verseker.
• Vloeistowwe: Gaan die enjinolie, verkoelingsmiddels en ruitveërvloeistof na.
• Onderdele: Maak seker dat die nood wiel reg opgepomp is en die domkrag en gereedskap in ‘n goeie toestand is.
Padveiligheid strek egter verder as net die voertuig. Markus Schuster, die hoof van Audi Suid-Afrika, beklemtoon dat verantwoordelike bestuursgewoontes net so belangrik is – veral in besige Desemberverkeer op Weskus-roetes:
• Hou by spoedbeperkings en pas aan vir weerstoestande.
• Vermy moegheid deur minstens elke twee uur te rus.
• Moet nooit onder die invloed van alkohol of iets anders bestuur nie.
• Deel die pad verantwoordelik met fietsryers, motorfietsryers en voetgangers.



