Meer as 600 Wes-Kaapse provinsiale beamptes en meer as 300 voertuie sal hierdie feestyd reg oor die Wes-Kaap ontplooi word om te verseker dat inwoners en besoekers in die provinsie veilig reis.
Dié syfers is verlede Saterdag (6 Desember) op die Wes-Kaapse mobiliteitsdepartement se bekendstellingsgeleentheid vir padveiligheid vir die feestyd 2025, wat in Beaufort-Wes – een van die provinsie se besigste reiskorridors – gehou is, bekendgemaak.
Die doel van hierdie veldtog is eenvoudig – om seker te maak dat elkeen wat die paaie gebruik, veilig en beskermd voel en in staat is om daardie belangrike oomblikke saam met vriende en familie te bereik.
Die plan beklemtoon die Wes-Kaapse regering se verbintenis om padgebruikers in die spitsvakansietydperk te beskerm.
Tydens die bekendstelling het Isaac Sileku, die Wes-Kaapse minister van mobiliteit, gesê vanjaar se benadering is ontwerp om te verseker dat elke inwoner en besoeker hul bestemming veilig bereik.
“Een verlore lewe is een te veel. Ons betree hierdie feestyd met ‘n onwrikbare vasberadenheid om te verseker dat almal op ons paaie veilig is. Ons het ‘n omvattende, goed gekoördineerde plan, maar ons kan dit nie alleen doen nie. Padveiligheid is ons almal se verantwoordelikheid – volg dus asseblief die padreëls en neem gereelde pouses,” het Sileku gesê.
Die Wes-Kaap het een van sy mees uitgebreide veiligheids optredes tot nog toe vir hierdie somer uitgerol.
Die veiligheidplan sluit in:
• 665 verkeersbeamptes wat 24 uur per dag reg oor die provinsie ontplooi is;
• ’n Vloot van meer as 300 verkeersvoertuie;
• Ten volle operasionele bewysmatige asem-alkoholtoetssentrums en mobiele eenhede vir alkoholafdwinging;
• Mobiele voertuigtoetseenhede om padwaardigheid te monitor – veral in die openbarevervoer- en vragsektore;
• Hoësigbaarheidspatrollies om spoedoortredings, afgeleide bestuur en roekelose gedrag te verminder;
• Moegheidsbestuursintervensies op langafstandroetes soos die N1, N2 en N7; en
• Doelgerigte voetganger-veiligheidsoptredes in hoë risikogebiede.
Sileku het sy waardering teenoor alle beamptes en noodspanne, wat deur die feestyd werk, uitgespreek.
“Ek wens elke verkeersbeampte, polisielid, nooddienstelid, munisipale verkeersbeampte en rampbestuurspanlid sterkte en veiligheid gedurende hierdie tydperk toe. Jul toewyding en opoffering gaan nie ongesiens verby nie. Julle is die ruggraat van ons padveiligheidsreak- sie en ons bedank julle vir jul diens.”
Die Wes-Kaapse regering herinner alle inwoners en besoekers daaraan dat pad- veiligheid ‘n gedeelde verantwoordelikheid is. Motoriste word versoek om tussen lang ritte te rus, die padreëls te gehoorsaam, te verseker dat hul voertuie padwaardig is en die instruksies van wetstoepassingsbeamptes te respekteer.
Voetgangers word aangemoedig om aangewese kruisings te gebruik, sigbare klere te dra en te vermy om naby paaie te loop wanneer hulle dronk is.
“Laat ons verseker elke reis eindig veilig. Laat ons almal ná hierdie feestyd veilig terugkeer huis toe,” het Sileku gesê.





