Troeteldiere hoort nie in ‘n natuurreservaat nie, is die mening van ‘n inwoner van Paternoster, wat gereeld in die Columbine-natuurreservaat kom vakansie hou.
Naomi van Wyk en haar familie kamp al langer as 20 jaar in die reservaat.
“Ek het oor die laaste vyf jaar egter met kommer waargeneem dat die aantal honde wat in die reservaat kom, elke jaar toeneem. Meer en meer kampeerders en dagbesoekers bring hul honde saam met die verskoning ‘almal doen dit’.”
Le Roux het by die parkopsigter sowel as die munisipaliteit navraag gedoen of die reél wat honde verbied, soos op die toegangsbord aangedui, steeds geldig is.
Hoewel sy verseker is dat dit wel die geval is, het “elke tweede kamp honde”. “[Dis nie] klein weggesteekte honde nie – daar is groot honde, medium honde en klein honde; tot ‘n Great Dane. Die honde is oorwegend nie aan leibande vas nie, en in die hoofkamp vorm hulle ‘packs’ wat saam los rondhardloop.”
As hondeienaar is haar besorgdheid veelvoudig: Dit hou ‘n gevaar in vir die seevoëls en ander voëls wat daar woon en op die rotse en in die veld broei. “Ek het al gesien hoe honde seevoëls, soos die Kaapse kormorante, rondjaag, en ‘n hond wat vir ‘n rob wat op die rotse lê en rus, blaf. Die rob is maar terug water toe.”
Sy meen die honde-eienaars neem geen verantwoordelikheid nie en die honde is ‘n gevaar vir menslike besoekers. Sy is al self deur blaffende, kwaai (los) honde bestorm wanneer sy gaan stap.
“Dit is onaangenaam en onregverdig. Wanneer ek met honde-eienaars hieroor probeer praat, word ek met agressie begroet.” Sy stel voor kampeerders word aan die reël herinner wanneer hulle bespreek.
Tereza Burger het namens die Saldanhabaai-munisipaliteit, wat die reservaat bestuur, gesê geen troeteldiere word toegelaat nie en dit is die verantwoordelikheid van die opsigter om toe te sien dat die reël gevolg word.
“As ‘ingesmokkelde’ honde wel gevind word, word die wetstoepassingsafdeling gekontak vir die verdere hantering van die saak.”
Burger verduidelik hulle maak staat op die eerlikheid van besoekers om te verklaar hoeveel mense die terrein betree.
“Die veiligheidsmense by die hek monitor die toegang van voertuie en mense in die voertuie. Dit is ongelukkig nie altyd moontlik om weggesteekte troeteldiere weens hul grootte te bespeur nie – veral klein hondjies.”Sy het bygevoeg dat dit bitter moeilik om te verseker dat geen honde die oop kampeerterrein betree nie.
“Ander honde van buite af kan ook die gebied betree en sodoende die fauna versteur.”





