Inwoners het die Stompneusbaaipad in ‘n betoging versper. Foto: Danie Hefers

Inwoners van Stompneusbaai het besluit hulle wag al lank genoeg vir behuising en is moeg vir leë beloftes. Betogings het in die vroëe oggend-ure van Woensdag 30 Julie en Vrydag 1 Augustus plaasgevind op die Stompneusbaaipad waar die gefrustreerde inwoners hul ontevredenheid te kenne gegee het.

Volgens raadslid Thyrone Williams wag inwoners al jare lank vir die huise om te materialiseer, maar tot datum is nog geen vordering gemaak nie. “Vyf jaar gelede het Oceana, ‘n private maatskappy wat in die gebied sake doen, ‘n stuk grond geskenk om hierdie ontwikkeling te ondersteun, maar tot dusver is daar nog geen munisipale dienste geïnstalleer nie.”

‘n Navraag aan die Oceana-groep het bevestig Oceana het die grond aan die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM) geskenk vir behuising.

Williams sê daar is baie verwarring ten opsigte van die datums van die skenking en die datums van die ondertekening van die skenking van die grond. Hy meen dit is ook een van die redes waarom inwoners ontsteld is – die tekort aan kommunikasie.

Volgens Ethne Lawrence, die woordvoerder van SBM, het SBM die skenking aanvaar deur Raadsbesluit R110/6-22.

“Hierna het die proses om die skenkingsakte te finaliseer en te onderteken onmiddellik begin. Die raad moes egter die opskortende voorwaardes onderhandel om te verseker dat die bepalings en voorwaardes van die skenking haalbaar is. Hierdie voorwaardes het spesifiek betrekking op projekgoedkeuringsprosesse en inisiasietydlyne, wat wysigings vereis het om te voldoen aan wetgewende vereistes en provinsiale tydraamwerke.

“Daarna is die Skenkingsakte op 31 Julie 2023 onderteken. Dit is belangrik om daarop te let dat, ten spyte daarvan dat die akte in 2023 onderteken is, die raad onmiddellik ná die besluit om die skenking te aanvaar, met die projekverwante prosesse voortgegaan het.”

Lawrence voeg by dat die Raad onlangs suksesvol met Oceana onderhandel het om die oorspronklike omvang van die grond wat geskenk sou word, te vergroot. “Hierdie uitbreiding is formeel met ‘n addendum in Junie goedgekeur. Die proses om die gedeelte van die grond te onderverdeel is tans aan die gang en ná ontvangs van die diagramme sal die herreggistrasie van die gedeelte van die grond in die naam van die Saldanhabaai-munisipaliteit by die aktekantoor gefinaliseer word.”

Williams sê kommunikasie moet verbeter. Sy het bevestig dat vergaderings sal plaasvind om meer duidelikheid oor die pad vorentoe te gee.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article