Siyabonga Care Village vier Vrydag (1 Augustus) sy 20ste bestaansjaar.
Suster Chrisna du Plessis (65), ‘n voormalige verpleegkundige van beroep, het die roeping in 2003 ontvang om ‘n veilige hawe vir siek en kwesbare mense te skep. Vandag staan dié droom bekend as Siyabonga Care Village, ‘n organisasie sonder winsoogmerk, wat honderde mense in die Weskus bedien.
Tydens haar werk by haar kliniek in Laingville, St. Helenabaai, het ‘n deurslaggewende oomblik plaasgevind.
“Ek het eendag ‘n man gesien wat in die sand gelê en wag het om kliniek toe te gaan. Dit het my hart gebreek,” vertel sy. “Ek het duidelik die Here hoor sê: ‘Gaan maak ‘n plek oop vir hierdie mense; it’s going to be a life-long commitment’.”
Twee jaar later, in 2005, het sy haar kliniek gesluit en toestemming gekry om ‘n gebou op Elandskloof, ‘n plaas net buite St. Helenabaai, as basis vir die nuwe organi-
sasie te gebruik. Hulle het met slegs drie vrywilligers en agt pasiënte begin en hoe-
wel daar aanvanklik min was, het skenkings – van beddens tot ‘n wasmasjien – van oral ingestroom.
Siyabonga het in 2008 na Kleinplasie, hul huidige tuiste net buite Vredenburg langs die Vredenburg-Velddrifpad, verhuis.
Vandag funksioneer die organisasie op vier hoofpilare van dienslewering – gesondheidsorg, sorg vir mense met gestremdhede, Vroeëkinderontwikkeling, en gesinsorg (vroue en kinders in krisisse).
Meer as 130 permanente personeellede en sowat 50 tydelike werkers is by die versorging van meer as 720 inwoners, pasiënte en ander kliënte betrokke. Die organisasie voorsien maandeliks meer as 25 000 maaltye – nie net op Kleinplasie nie, maar ook by hul talle ander fasiliteite in Vredenburg.
Op Kleinplasie self is onder meer:
• Huis Cornelius en Huis Isabella: Residensiële sorgfasiliteite vir volwassenes met gestremdhede;
• Special Kids: Dagsorg vir kinders met spesiale behoeftes;
• Die Pikanini-vroeëkinderontwikkelingsentrum;
• ’n Administratiewe kantoor, groentetuin en wassery.
Siyabonga huur in Vredenburg ook geriewe vir:
• Huis Hadassa, ‘n kinder- en jeugsorgsentrum;
• ’n Skuiling vir mishandelde vroue; en
• ’n Maatskaplike kantoor in Hillstraat waar gestremde mense en hul gesinne ondersteun word.
Verder bedryf hulle ook:
• ’n Tweede vroueskuiling in die Bergrivier-gebied;
• die Sisonke Protective Workshop in Heuningklipweg, waar gestremde jongmense entrepreneurskap en lewensvaardighede aanleer;
• Die 2Care-dagsorgsentrum met stimuleringsaktiwiteite;
• Huis Natachia, ‘n 24-uur-versorgingsfasiliteit vir mans en vroue met gestremdhede.
Siyabonga se geldwerwing sluit kreatiewe projekte in soos:
• Krap & Koop in Skoolstraat, ‘n winkel vir gebruikte (‘tweedehandse)’ goedere;
• Elegance Bridal Shop, waar trou- en matriekafskeidsrokke verhuur word;
• Inmaak van jalapeños;
•’n Naaldwerkprojek; en
• Die maak en verkoop van vuuraanstekers.
Toekomsplanne sluit in die oprigting van nuwe graad R-klaskamers by Pikanini, die hervestiging van Huis Hadassa en die vroueskuiling op Kleinplasie asook die ontwikkeling van Siyabonga se eie padstal waar plaasprodukte verkoop sal word, met natuurlik ‘n lekker koppie koffie vir besoekers.
“Dit was nie altyd maklik nie,” sê Du Plessis. “Maar God het altyd voorsien. Siyabonga is ‘n storie van guns en genade.”
Tog is die nood steeds groot en die organisasie bly afhanklik van die gemeenskap se goedhartigheid en sakeondernemings se ondersteuning.
Wil jy betrokke raak of ‘n bydrae lewer? Kontak Siyabonga by 022 713 5730.











