Biodiversiteitsmisdaad is ‘n groeiende en dikwels oor die hoof gesiene bedreiging wat Suid-Afrika se unieke ekosisteme direk benadeel.
Volgens Luke Folb van CapeNature dra onwettige planthandel in die Wes-Kaap tot stropery en selfs die pluk van veldblomme in beskermde gebiede sonder ‘n permit by tot die agteruitgang van biodiversiteit en die verlies van belangrike natuurlike hulpbronne.
Anton Bredell, Wes-Kaapse provinsiale minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, sê tussen April en Junie 2025 het CapeNature-amptenare 12 gevalle geregistreer, agt met flora en vier met fauna. CapeNature het ook 23 boetes uitgereik, vier vir oortredings van die Wet op Mariene Lewende Hulpbronne en 19 is uitgereik vir oortredings van die Natuurbewaringsordonnansie.
Van laasgenoemde 19 boetes was 15 vir oortredings met wilde diere en die ander met flora. “Hierdie statistieke weerspieël die erns van biodiversiteitsmisdaad in die provinsie en ons voortgesette pogings om nakoming en afdwinging saam met ons vennote te versterk,” het Bredell gesê.
“Elke aksie wat ons neem om die onwettige oes en handel van spesies te stop, dra by tot die bewaring van die Wes-Kaap se wêreldwyd belangrike ekosisteme. Ons is veral dankbaar vir die vele vennootskappe wat ons het met ander regeringsagentskappe, bewaringsvennote, bedryfsgroepe en gemeenskappe wat ons in hierdie pogings bystaan.”
Die Wes-Kaap is die tuiste van die Kaapse Floristiese Streek, een van die wêreld se ses blomkoninkryke en ‘n erkende UNESCO-wêrelderfenisgebied. Tog word byna 16% van die provinsie se spesies en meer as 50% van sy ekosisteme as bedreig beskou. Onwettige aktiwiteite plaas bykomende druk op reeds kwesbare landskappe, wat biodiversiteit, plaaslike ekonomieë en voedselsekerheid beïnvloed.
CapeNature se nakomings- en afdwingingsbenadering is gewortel in multi-agentskap samewerking met eenhede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), soos die Valke en die Veediefstal- en Bedreigde Spesies-eenhede, en met baie ander vennootskappe tussen wetstoepassings- en vervolgingsowerhede. Afdwinging vorm deel van ‘n breër strategie om biodiversiteitsmisdaad te ontwrig terwyl volhoubare ontwikkeling en bewaringsgebaseerde lewensbestaan regoor die provinsie ondersteun word.





