Graad 8- tot gr. 10-leerders van die Hoërskool Porterville het onlangs die bekendstelling van hul Loopbaanklub (Career Club) bygewoon.
Die Loopbaanklub is ‘n inisiatief wat deur die Wes-Kaapse Onderwysdepartement begin is om leerders oor loopbaankeuses te bemagtig.
Die WKOD se Lewensoriënteringspan het die Loopbaanklubprogram in 2023 as deel van die Wes-Kaapse Regering se strategie Groei vir Werkgeleenthede (G4J) van stapel gestuur.
Die vlagskipprogram poog om toegang tot ekonomiese geleenthede en indiens- neembaarheid soos onder meer vaardighede en onderwys, vervoer en behuising te verbeter.
Die fokus is om loopbaanvoorbereiding en werkgereedheidsbevoegdhede en -vaardighede deur lewensoriëntering te verbeter.
Die klubs fokus op loopbane met veral wetenskaponderwysers wat byvoorbeeld inligting verskaf oor loopbane gekoppel aan die wetenskap-, tegnologie-, ingenieurswese- en wiskunde- (STEM) vakke, en ekonomie-onderwysers sal byvoorbeeld die eise van die land se ekonomie en die loopbane in daardie sektor aanpak.
Tweedens bied dit leerders die geleentheid en ‘n bemagtigende platform om eienaarskap van die vestiging van hul loopbaanpaaie te neem. Die loopbaanklubs stel hulle in staat om mense van ‘n verskeidenheid beroepe buite die konvensionele beroepe uit te nooi om leerders toe te spreek.
Derdens was die plan dat dit onderwysers moet motiveer om meer kreatief en vernuwend in die hantering van loopbaanbeplanning met leerders te wees.
Vierdens word gepoog om leerders die belangrikheid van entrepreneurskap in hul gemeenskappe en die uitwerking daarvan op werkskepping in daardie
gemeenskappe, die land en internasionaal ten volle te laat verstaan.
Die Porterville-hoërskoolleerders het insiggewende toesprake van sprekers ontvang en agterna die WKOD vir hul rugsakke en kospakkies bedank.




