David Rossouw
Sanlam en die Boland-rugbyunie se Grootuitdaagbeker-wedstryde van die Weskusstreek het die tweede ronde die afgelope Saterdag (7 Junie) in
uitdagende weersomstandighede begin.
Met ‘n paar spanne soos Young Hearts, Paternoster, Langebaan, Vredenburg en Goedverwacht, wat ‘n rusweek gehad het, het St. Helena, Saldanha en Velddrif die geleentheid benut om hul posisies op
die punteleer te verbeter met oorwinnings oor Steenberg’s Cove, Piketberg en Hopefield. St. Helenabaai gee tans die pas in die streek aan, en ná Saterdag is hy die algehele voorloper.
Dié span het met sy oortuigende
tuis- oorwinning van 68-12 oor
Steenberg’s Cove ‘n duidelike boodskap aan die res van die spanne gestuur en so ook sy titelaanspraak – vir moontlike deelname aan die Sanlam-Boland-Top-12 later vanjaar – lewend gehou.
Saldanhabaai het die lang pad na Piketberg aangepak en die Rhinos op
Rhinopark in hul agterplaas aangedurf. Ná goeie spel in die eerste helfte was die rustydtelling 8-20 vir die besoekers.
In die tweede helfte het ‘n begeesterde Rhinospan egter met ‘n terugvegpoging vorendag gekom en die manne van die Baai harde bene laat kou.
Saldanhabaai het egter koel en kalm gebly, beheer oor die wedstryd uitge-
oefen en Piketberg met 35-23 geklop. Dit skuif hulle na die derde plek op die punteleer.
In Velddrif het die tuisspan, sy
buurman, Hopefield, die stryd aangesê en uit die staanspoor bevestig waarom hy die beter span van die twee is. Albei spanne moes by winderige en reënerige weer aanpas.
Velddrif het egter sy heerskappy teen-
oor Hopefield getoon deur vinnig punte aan te teken en toe die eindfluitjie blaas, het hy Hopefield oortuigend met 29-40 verslaan.
Velddrif staan nou algeheel vierde, met 37 punte – een punt agter Saldanhabaai in die derde plek.
Met alle spanne die komende naweek terug op die veld, wag ‘n spannende ronde, veral onder die vier topspanne, waar elke wedstryd ‘n bepalende invloed op die ranglys kan hê.
Wedstrydbepalings vir Weskus en Swartland:
• Weskus
Hopefield t. Young Hearts; Paternoster t. Velddrif; St. Helenabaai t. Langebaan,
Saldanhabaai t. Steenberg’s Cove; Vredenburg t. Piketberg; Goedverwacht rus.
• Swartland
Good Hopes t. Never Despair; Wesbank t. Mamre; Porterville t. Saron; Darling t. Riebeek United; Abbotsdale t. Villagers Wittewater; Moorreesburg t. Voorberg.
Uitslae – Saterdag 7 Junie
• Weskus
Piketberg 23-35 Saldanhabaai
St. Helena 68-12 Steenberg’s Cove
Velddrif 40-29 Hopefield.
• Swartland
Saron 18-8 Wesbank Villagers
Wittewater 12-6 Darling
Mamre 41-9 Goodhopes
Never Despairs 18-12 Moorreesburg





