Terrance Ackers

Alfredo Barends (37), ‘n bekende afrigter wat in Diazville aan die

Weskus gebore is, se persoonlike reis van sy onderwysdae by die Hoërskool Diazville tot in China was ‘n droomreis wat hy geensins vooruit beplan het nie.

Barends het sy skoolloopbaan aan die Laerskool en Hoërskool Diazville voltooi en in 2011 met sy onderwysloopbaan by die Hoërskool Diazville begin. Hy het vars uit die universiteit met sy B.Ed-graad in sy hand as rugbyspeler by die Saldanha- baai-rugbyklub aangeluit, terwyl sy loopbaan as rugbyafrigter en sy eerste blootstelling aan rugby op Suid Afrikaanse skoolvlak by hierdie hoërskool begin het.

Barends het ‘n passie vir jongmense, veral dié in sy plaaslike gemeenskap.

“ ’n Bron van hoop. As boorling van Diazville is dit vir my ‘n besondere voorreg om hoop te verskaf aan ons gemeenskap wat deur haglike omstandighede omring is. Ek wil lig verskaf in hierdie donker tye in ons gemeenskap sodat die jongelinge kan hoop skep deur iemand wat uit die diepe wortels van hierdie gemeenskap uitgestyg het.”

In 2016 is Barends as die afrigter van die SA o.16 EPD (Elite Player Development) aangestel.

Hy word in 2018 die pos as die direkteur van rugby by die Sjanghai-rugbyklub in China aangebied en besluit toe om sy opvoederstaak in die klas vir die rugbyveld te verruil en rugby- spelers af te rig. Hy het sy tasse gepak en die vreemde ingevaar met sy B Ed-graad en afrigtersertifikate.

In dieselfde jaar kry hy met sy toewyding die pos van hoofafrigter van die Chinese Rugby- en Voetbalassosiasie – ‘n uitsonderlike prestasie vir dié Weskusklong.

In 2019 word hy ‘n onderwyspos by die Hoërskool Louwville aangebied en hy aanvaar dié aanbod, wat hom weer terug in die klaskamer plaas – ‘n pos wat hy van 2019 tot 2023 met sukses beklee het. Hy word daarby ook in 2019 as die afrigter vir die skool se o.19-rugbyspan aangestel. In dieselfde jaar word hy ook as die hoofafrigter van die Boland Rugbyunie se meisies o.18-span vir die SA o.18-skoletoernooi vir die jeugweek aangestel, so ook as die hoofafrigter vir die Boland se seuns o.15-Iqhawespan. Dié span word onder sy afrigterskap die kampioen van die SA o.15-Iqhawetoernooi.

In 2020 word hy aangestel as die krag- en kondisioneringsafrigter by die Vredenburg-rugbyklub. Hy behaal sukses met dié aanstelling en word later as die hoofafrigter van die klub aangestel. Met hierdie aanstelling word Barends die jongste hoofafrigter in die Boland Rugbyunie se Grootuitdaag-kompetisie. In sy eerste seisoen in hierdie pos wen Vredenburg teen die magtige Worcester Villagers op Boland park in Wellington.

Met hierdie oorwinning kwalifiseer die klub om deel te neem aan die SA Gold Cup. In 2020 en 2021 is daar egter as gevolg van die Covid-pandemie nie rugby gespeel nie.

In 2022 word hy hoofafrigter van die Boland se seuns o.15-sewespan en ook van die Wes-Kaap se o.15-seunsspan. Hy word daarna weer gekies as die Vredenburg-rugbyklub se hoofafrigter. In 2023 word hy die hoofafrigter van die Wes-Kaap se o.15-seuns, met sy span wat die nasionale o.15-kampioenskap wen. As die hoofafrigter van die seuns o.15-span by die Iqhaweweek in 2023 word sy span ook hier as die kampioen gekroon, die tweede keer agtereenvolgens.

In 2023, in sy tweede jaar as getroude man, is hy weer genader om by rugby in China betrokke te raak.

Met sy eerste besoek aan China het hy soveel indruk gemaak met sy afrigtingstegnieke dat die rugbybase in China hom net nie wou uitlos nie. Hy is tans steeds in China waar hy ‘n rugbyafrigtingspos met sukses beklee.

Op sy geestelike, beskeie en stil manier het hy in menige se harte ingekruip.

Onderwys en afrigting lê na aan sy hart. Vele jong seuns het onder sy afrigting sukses behaal; van hulle is tans deel van die Springbok-sewesgroep. As onderwyser en afrigter by die Hoërskool Louwville het hy ook vir etlike van die rugbyspelers geleenthede bewerkstellig om by ander provinsies met beurse aan te sluit. Met sy sukses tot op hede sal Barends vir enige klub- of provinsiale span tot groot voordeel wees.

Barends is ondanks sy prestasies as afrigter nog steeds met sy voete plat op die aarde.

Hy is tans ook die hoof van O’bliss Pty Ltd. Hy is ook die hoof- operasionele beampte van O’bliss Apparel en speel ‘n belangrike rol met borgskappe aan klubs. Sy plan is om O’bliss Apparel die hoofborg van die Saldanha Tigers van 2026 te maak. Daar sal later meer inligting hieroor verskaf word.

“My grootste droom sal altyd wees om voluit te leef vir die wil van die Here, ‘n lewe wat ‘n positiewe impak op ander sal hê. Konstante persoonlike groei is belangrik, asook ‘n maksimale bydrae tot die samelewing en my gemeenskap,” sê Barends.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article