Nooddienste op die toneel van die verdrinking.

Die stilte in die huis waar Anna Karools saam met haar oudste seun, Welsey Carolus (30), gewoon het, is opmerklik.

Wesley het die afgelope Donderdag (19 Februarie) tragies by Laingville se strand verdrink.

Soos Anna aan Weslander verduidelik, was dit Wesley se derde besoek aan die strand vir dié spesifieke dag.

Wat presies gebeur het, is nog nie duidelik nie en is nie in hierdie stadium vasgestel nie.

Anna en Wesley woon al die afgelope ses maande in Laingville en sy kon sien met die nuus van sy dood dat hy reeds ‘n groot invloed op baie inwoners se lewe gehad het.

Wyle Wesley Carolus

Anna vertel Wesley het ‘n draai gaan loop en met sy terugkoms besluit om strand toe te gaan. Net voor dit het die twee van hulle nog TikTok-videos saam gesit en kyk. “Hy het die vorige dag gesê die water was hoog, en ek het vir hom gesê hy moenie water toe gaan nie. Alles het so vinnig gebeur. ‘n Kind het aangehardloop gekom en gesê, Antie, Wesley het verdrink. Ek sê toe dit kan nie wees nie, want ek kon dit nie glo nie. ”

Anna is dadelik na die water toe en het haar seun reeds uit die water gehaal op die rotse sien lê.

“Dit was klaar te laat. Ek het gehuil … dis al wat ek kon doen. Ek gaan nie die Here vrae vra nie; wat Hy gedoen het, het Hy gedoen.”

Anna beskryf haar seun as ‘n vriendelike, grapperige en behulpsame mens. “Hy het net geweet hoe om my dag te maak en ons het ‘n goeie verhouding gehad. Ek het nooit geweet Wesley het soveel mense geken nie. Baie mense het by die huis omgekom, en dit wys hoe baie hy vir ander beteken het.”

Die begrafnis vind op Saterdag 7 Maart by die Ou Apostoliese kerk in Atlantis plaas.

• Die polisie het bevestig dat ‘n standaard- geregtelike nadoodse ondersoek gedoen word.

Skare en nooddienste op die toneel waar Wesley se liggaam gelê het.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article