Vooma-naweek 2 en 3 Oktober was redelik suksesvol in Atlantis volgens Natalie Watlington, woordvoerder van die departement van gesondheid.
President Cyril Ramaphosa het die inentings veldtog bekendgestel in ’n poging om 70% van Suid-Afrika se volwasse bevolking voor die einde van die jaar ingeënt te kry. Die veldtog is daarop gemik om mense aan te moedig om hulle te laat inent.
Die departement het kamp opgeslaan in die Atlantis City Mall en volgens Watlington het 400 inwoners hulle oor die naweek laat inent. Volgens Christopher Smith en sy verloofde Lauren Atson het hulle die geleentheid gebruik om hulself te laat inent terwyl hulle inkopies gaan doen het. “Ons is baie besig deur die week, maar het die geleentheid gebruik om onsself te beskerm omdat ons binnekort trou en dit is iets wat ons as ’n paartjie besluit het. Ons was eers baie skepties oor die entstof aangesien baie familielede van ons baie negatief oor die entstof is.
“Ons het saam besluit om eerder onsself te beskerm en die geleentheid was baie gerieflik vir ons.”
Nie almal hier was baie lus om die jab te vat nie en baie het wye draaie om die span geloop. Die regering het nie sy teiken gehaal om die eerste naweek van die Vooma-veldtog ’n halfmiljoen mense landwyd in te ent nie. Net 353 819 mense is tussen Vrydag en Sondag ingeënt. Vrydag is 195 659 mense ingeënt, Saterdag 107 385 en Sondag 50 776.




