Alan Winde, die Wes-Kaapse premier, het die buurtwag van Uitbreiding 13 besoek en saam met lede die strate ingevaar om na inwoners se behoeftes te luister. Foto: Murphy Roberts


Alan Winde, die Wes-Kaapse premier, het Woensdag 21 April kom luister na probleme en uitdagings van buurtwagte toe hy die Saxonsea-buurtwag besoek en deur die strate van Uitbreiding 13 gestap het.

Winde het buurtwaglede toegespreek oor die belangrikheid van hul rol vir veiliger gemeenskappe.

Volgens die premier het die polisie ’n rol om te vervul, maar hulle kan nie oral gelyk wees nie. Die voordeel van die vrywillige buurtwaglede is dat hulle hul gemeenskappe ken omdat hulle uit die gemeenskap kom. Winde het aan die lede verduidelik dat die Wes-Kaap ’n tekort aan polisiebeamptes het, en daarom vervul buurtwagte ’n belangrike rol vir veiliger gemeenskappe.

Winde het gesê buurtwagte kan ook ’n belangrike rol in die inentings-veldtog vervul omdat die lede gereeld stap en inwoners kan aanmoedig om vir die veldtog te registreer.

Buurtwaglede moet egter vir die administrasie van die veldtog opgelei word omdat baie mense nie aanlyn kan registreer nie, het die premier gesê.

Winde het die lede aangemoedig om mense vir die inenting te registreer “sodat ons weg van maskers kan aanbeweeg” en die ekonomie kan groei.

“As premier besef ek daar is ’n behoefte dat buurtwagte met die nodige hulpmiddels toegerus moet word om doeltreffend te wees.”

Hy het buurtwagte aangemoedig om dus gou te registreer.

Volgens die premier is Atlantis nog nie onder die top-10 misdaadgeteisterde gebiede nie, daarom kon die dorp nog nie bykomende lede kry nie.

Hy het egter Allister Lightburn, ’n proporsionele raadslid, en ander organisasies se pogings geloof om Atlantis se goeie polisiebeamptes weer hier te laat ontplooi en beloof sy kantoor sal die veldtog steun en help waar hulle kan aangesien hulle nie kan wag dat Atlantis een van die tien gevaarlikste gebiede word nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 28 April 2026
    WeskusNuus E-Edition – 28 April 2026

Gift this article